Organisasies staan saam teen plaasmoorde

 

Verskeie burgerlike organisasies en opposisiepartye het vandag tydens ’n gesamentlike mediakonferensie in Centurion standpunt teen plaasmoorde ingeneem en ’n beroep op die Suid-Afrikaanse regering gedoen om indringend in te gryp om dié krisis te prioritiseer.
Die organisasies het hulle ook almal daaraan verbind om deel te neem aan die protesoptog teen plaasmoorde wat vir Saterdag, 25 November beplan word, wanneer daar vanaf die Pretoria Kunsmuseum na die Uniegebou gestap sal word om ’n memorandum aan die staatspresident te oorhandig.
Die organisasies wat by hierdie mediakonferensie verteenwoordig is, sluit die burgerregte-organisasie AfriForum, die vakbond Solidariteit, die landbou-unie TLU SA, asook opposisiepartye naamlik die DA, die VF Plus en Cope in.

“Plaasmoorde is ’n nasionale krisis en dit moet as sodanig hanteer word,” sê Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum. Roets het bygevoeg dat AfriForum nie glo dat boere en plaaswerkers se lewens belangriker as dié van ander landsburgers is nie, maar dat hierdie gemeenskap disproporsioneel geteiken word en dat die aanvalle ’n buitengewone impak op die land het. “Die uniekheid van plaasmoorde regverdig ’n gefokusde teenstrategie.”

Ten minste 80 plaasmoorde is sedert die begin van die jaar gepleeg.

  • Die protesoptog begin Saterdag, 25 November 2017 om 10:00 by die Pretoria Kunsmuseum, vanwaar daar na die Uniegebou gestap sal word.

Soortgelyke plasings