|

Orkney-buurtwag help met Rooms-Katolieke Kerk opknapping

Die AfriForum-buurtwag in Orkney het op 18 Junie die Rooms-Katolieke Kerk in hierdie dorp gehelp met opknappings- en opruimingswerk. Die teёls vir die altaar is deur die buurtwag geskenk en die buurtwaglede het ook gehelp om matte en vensters, wat nie met die hand gewas kan word nie, met ’n masjien skoon te spuit.

Die aksie is aangepak as hulp tot aanloop van die gemeente se 50ste bestaansjaarvieringe in Augustus wanneer hulle belangrike besoekers verwag. Die jeug het ook hand bygesit en die lidmate van die kerk was baie dankbaar. Dit is ’n baie klein en arm gemeente, daarom het die buurtwag besluit om hulle te help.

“Dit is lekker dat die buurtwag ook op gebiede buite veiligheid aan mense hulp verleen. Dit is so ’n klein gemeenskap dat almal mekaar se behoeftes raaksien,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Indien jy wil betrokke raak, kontak vir Casper Labuschagne by 072 569 7321.

Soortgelyke plasings