|

Ou vlag: AfriForum veg in Hoogste Hof van Appèl vir vryheid van spraak

Die burgerregteorganisasie AfriForum het gister verlof tot appèl gekry om die uitspraak van die Suid-Gautengse Hooggeregshof – dat die vertoon van die 1928-vlag (die ou Suid-Afrikaanse vlag) haatspraak is – in die Hoogste Hof van Appèl in Bloemfontein te beveg.

Volgens Ernst Roets, hoof van Beleid en Aksie by AfriForum, is dit ’n positiewe wending vir vryheid van spraak. “AfriForum is sterk ten gunste van vryheid van spraak, maar glo terselfdertyd dat daadwerklike haatspraak beveg moet word. Die feit dat die ou vlag vir sommige mense aanstoot gee, is in terme van die bepalings van die Suid-Afrikaanse Grondwet nie ’n geldige rede om dit tot haatspraak te verklaar nie. Ons is bekommerd dat dit verreikende gevolge vir vryheid van spraak – een van die hoekstene van ’n demokratiese samelewing – kan hê as die vertoon van die 1928-vlag tot haatspraak verklaar word. Daarom sal ons hierdie saak tot in die hoogste hof beveg.”

AfriForum se standpunt was nog altyd dat haatspraak plaasvind wanneer haat teen ’n groep mense gepropageer word op grond van hulle identiteit (byvoorbeeld hul ras, etnisiteit, geslagtelikheid of godsdiens) én wanneer die uitspraak in hierdie verband gekombineer word met ’n aanhitsing om daardie groep skade aan te doen. Die onlangse uitspraak van die Hoogste Hof van Appèl in die saak van Qwelane vs. die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie het hierdie standpunt bevestig.

AfriForum se standpunt – wat ook die punte is wat in die hof aangevoer sal word – oor die vertoon van die ou Suid-Afrikaanse vlag en die vraag of dit haatspraak is, kan soos volg opgesom word:

  1. AfriForum gee erkenning aan die feit dat die vertoon van die 1928-vlag aan ’n deel van die bevolking aanstoot gee. Dit is ook die rede waarom AfriForum nie die vlag vertoon nie. AfriForum is verbind tot die bevordering van wedersydse erkenning en respek tussen gemeenskappe.
  2. Die vertoon van die vlag kan slegs op haatspraak neerkom indien dit gekombineer word met ’n boodskap wat mense op grond van hul ras of etnisiteit teiken en die boodskap ook ’n aanhitsing bevat om daardie groep skade aan te doen. In die afwesigheid van so ’n boodskap is die aanstoot wat die vlag kan gee, nie voldoende om dit in terme van die Grondwet se bepalings tot haatspraak te verklaar nie.
  3. AfriForum is sterk ten gunste van vryheid van spraak en glo terselfdertyd dat daadwerklike haatspraak beveg moet word.
  4. AfriForum is van mening dat ’n verbanning van die vlag die teenoorgestelde effek sal hê as wat daarmee beoog word, naamlik dat dit die vlag meer gewild maak juis omdat die onderdrukking van vryheid van spraak ’n teenreaksie skep. Die publieke reaksie op die gelykheidshof se uitspraak bevestig dit alreeds.

Om AfriForum se verdediging van vryheid van spraak in hierdie saak te vertolk as ’n poging om die skending van mense se waardigheid tydens apartheid te regverdig, is ’n moedswillige verdraaiing van AfriForum se standpunt.

Soortgelyke plasings