Ouers moet nie nalaat om kinders betyds te registreer vir 2018


Gauteng se 2018-aanlynskoleregistrasieproses vir graad 1- en 8-leerders het reeds Dinsdag, 2 Mei om 8:00 geopen. Sover het die burgerregte-organisasie AfriForum geen klagtes van ouers of skole ontvang nie en was die terugvoer oor die proses gunstig.
Daar is wel ’n paar bekommernisse geïdentifiseer en AfriForum wil ’n dringende beroep op ouers doen om nie nalatig met die proses te wees nie.
Hoewel die aanlynregistrasieproses voorsiening vir jou taalvoorkeur maak, word plasings steeds streng chronologies gemaak. Dit beteken dus dat die stelsel nie skoolbeheerliggame se taal- en toelatingsbeleide volledig akkommodeer nie. Die stelsel gaan nie onderskeid tref ten opsigte van taal nie. Dus moet ouers nie onnodig uitstel om te registreer nie, aangesien hul kanse om hul kind op die A-lys van hul keuseskool te kry, elke dag beïnvloed word. Ouers moet ook nie wag totdat skole se opedae in Mei eers verloop en dan hul kinders registreer nie.
Volgens Carien Bloem, AfriForum se projekkoördineerder vir onderwys, gee die gesentraliseerde skoolstelsel ook nie betyds inligting aan skole deur van hoeveel leerlinge al geregistreer is by ’n bepaalde skool nie.

“Dit bemoeilik die onderwysbeplanning en bestuursproses geweldig,” voeg Bloem by. “AfriForum doen egter baie moeite om die aanlynproses fyn dop te hou en konsulteer op gereelde basis met ons regspan om voorbereid te wees daarop om ouers en leerders se regte te beskerm.”

AfriForum doen weereens ’n beroep op ouers om enige probleme met die aanlynregistrasieproses op AfriForum se webtuiste aan te meld onder die volgende skakel: https://afriforum.co.za/jou-eenstoponderwysinligtingsblad/.
 

Soortgelyke plasings