|

Overstrand-tak installeer twee nuwe kameras

AfriForum se Overstrand-tak het op 12 Oktober 2021 twee nuwe kameras in onderskeidelik Lynx- en Vermontlaan in Vermont opgerig. Hierdie kameras gaan gebruik word om met misdaadbekamping te help.

Die kameras is in samewerking met Whale Coast Computers opgerig en sal deur NAVIC gemoniteer word, wat die plaaslike AfriForum-buurtwag en ander rolspelers soos plaaslike sekuriteitsmaatskappye in staat stel om die gemeenskap effektiewer te beskerm.

“Die LPR-kameras dien as afskrikmiddel vir verdagte voertuigbeweging en dien ook as hulpmiddel om misdadigers en gesteelde voertuie ná misdaadvoorvalle te identifiseer vir vervolging,” sê Lourens Theron, veiligheidsvoorsitter van AfriForum se Overstrand-tak. 

“Hierdie projek is uiters belangrik vir ons gemeenskap en dit is net een van vele maniere waarop AfriForum-buurtwagte misdaad help bekamp en om gemeenskappe meer weerbaar te maak,” sê Johardt van Heerden, AfriForum se distrikskoördineerder in die Boland.

Die tak moedig die gemeenskap aan om betrokke te raak en deel te word van ’n vooruitstrewende en veiliger gemeenskap. SMS “Overstrand” na 45350 (R1).

Soortgelyke plasings