|

Paraatheid is die wagwoord dié feesseisoen

Dit is weer daardie tyd van die jaar en nie veel het verander wat betref veiligheid in Suid-Afrika nie, in teendeel dit het net erger geraak gedurende 2021.

Misdaad gaan van nou tot in 2022 baie toeneem en dit is belangrik dat daar opgelet word na die volgende punte tydens die tydperk.

Gedurende Desember 2021 gaan daar twee operasies plaasvind van AfriForum Gemeenskapveiligheid se kant. Die twee operasies staan bekend as “Operasie Kerskous” en die Nasionale Patrollie. Die hoofdoel van die twee aktiwiteite is om die kriminele aktiwiteite gedurende Desembermaand te verminder en ons lede ’n veiliger vakansie te laat beleef. Die buurtwagleiers in samewerking met die veiligheidsstreekhoofde sal toesien dat dit gebeur.

AfriForum wil graag die volgende punte van belang onder sy lede en die publiek se aandag bring gedurende die feesseisoen. Heelparty mense gaan gedurende Desember tuisbly of met vakansie gaan. Dit is algemeen bekend dat misdaadaktiwiteite ook in dié tyd veral op plase en landelike gebiede toeneem. Daarom is ‘n lys met wenke saamgestel hoe mense hulself in die tyd kan beveilig waar hulle hul ook al bevind.

Tuisbly:

  • Let op vir pos en koerante wat ophoop in jou posbus of in dié van die bure. Dit is ’n goeie aanduiding vir kriminele of jy tuis is of weg van die huis. Verwyder dit daagliks.
  • Luister as jou honde of die van jou bure op ’n ongewone manier blaf. Die manier hoe honde blaf sal vir jou ’n aanduiding gee hoekom hulle blaf.
  • Maak seker jy weet wie van jou bure met verlof gaan wees en tot wanneer. Kry die nodige kontakbesonderhede van hulle en van die persoon wat verantwoordelik is vir hul huis gedurende daardie tydperk.
  • Maak seker jy is op hoogte rakende die huidige beurtkrag-skedule in jou gebied. Die onderbreking in krag hou ’n risiko in vir jou, want kriminele het dan makliker toegang tot persele.
  • Indien jy reeds deel vorm van ’n buurtwagstelsel, gaan voort met die ry van patrollies en deurgee van informasie.
Let op vir pos en koerante wat ophoop in jou posbus of in dié van die bure.

Met Vakansie:

  • Laat weet jou bure wanneer jy vertrek en terugkom.
  • Stel, indien moontlik, ’n betroubare persoon aan om na jou huis om te sien en stel die persoon ook aan jou bure voor. Maak seker dat almal mekaar se kontakbesonderhede het.
  • Die persoon wat jou eiendom op pas, moet kontaknommers hê van alle nooddienste om gevalle te hanteer sou iets in die huis of met die diere verkeerd gaan.
  • Maak seker die persoon weet wat die nodige gebeurlikheidsplanne is om te volg sou daar ’n krisis ontstaan by jou huis.
  • Indien jy jou sekuriteitsmaatskappy vertrou, verwittig hulle van jou planne. Lig ook jou buurtwagleier in omtrent jou planne en gee ook kontakbesonderhede van die persoon wat by jou huis gaan bly.
  • Maak seker jou voertuig is padwaardig om die langpad aan te durf.
  • Mediese hulpmiddels en items soos ’n noodhulpsakkie moet weer nagegaan word om seker te maak dat daar nie dalk produkte is wat verval het of vervang moet word nie. Maak seker gesinslede wat chroniese medikasie gebruik se voorraad is genoeg vir die vakansietyd.
  • As jy ’n “GO BAG” het gaan alle items na om seker te maak dit is relevant tot die reis en die vakansie.
  • Doen deeglike roetebeplanning en identifiseer brandpunte en punte waar jy moet oornag om te rus.
Maak seker die bure weet wat die nodige gebeurlikheidsplanne is om te volg sou daar ’n krisis ontstaan by jou huis.

Plaasbeskerming en veiligheid:

  • Maak vrede met jou bure. Swak buurmanskap in afgeleë gebiede maak jou nog meer kwesbaar. Jou buurman is die eerste persoon wat jou kan bereik as jy in die moeilikheid is en ook die eerste een wat kan sien as iets in jul omgewing of naby jou plaas verdag of verkeerd lyk.
  • Sorg dat jy die telefoon- en selfoonnommers van jou bure ken.
  • Sluit aan by ’n buurtwag of patrollie en as daar nie een in jou omgewing is nie, neem die leiding en begin een.
  • Verander jou argelose houding. Baie plaashuise het ingangshekke, veiligheidsdeure en diefwering aan die vensters. Maar dit staan wawyd oop vir misdadigers om in te kom. Baie mense word ook Sondae aangeval as hulle van die kerk af kom, omdat hulle dan rustig en nie baie waaksaam is nie.
  • Sleutels moet onder geen omstandighede rondlê nie sodat niemand afdrukke kan maak of nommers kan neerskryf nie.
  • Gebruik sekuriteitstoerusting tot jou voordeel om vir jou tyd te koop in aanloop tot ’n plaasaanval. Sorg dat alarms, infrarooistrale en elektriese heinings altyd geaktiveer en in werkende toestand is.
  • Veiligheidshekke, deure en ander vorme van fisiese grense maak dit vir ’n aanvaller moeiliker om by jou uit te kom. Bring daardie ysterhek in die gang aan wat jou en jou gesinslede meer tyd sal gee om te beplan wanneer julle aangeval word. Hou die deure te alle tye gesluit, selfs as jy buite is. Dit verklein die kans dat iemand vir jou agter ’n deur by jou huis kan inwag. Te veel mense word onverhoeds betrap en ingewag as hulle uitgaan om byvoorbeeld die honde kos te gee.
  • Moenie dink dat jy nie aangeval of oorrompel gaan word nie. Dit kan en gebeur met almal. Wees deurentyd op jou hoede en hierop bedag.
  • Mense op plase en hoewes is dikwels mense met ’n vaste en gereelde roetine. Hulle staan op dieselfde tyd op, gee die diere op dieselfde tyd kos en sluit hulle hekke, deure en store op dieselfde tyd oop. Dit kan positief én negatief wees. Verander jou roetine in jou onmiddellike omgewing van tyd tot tyd, maar onthou dat roetine in ’n gemeenskap daartoe kan bydra dat mense vir mekaar uitkyk. As jy en jou buurman byvoorbeeld elke oggend op pad skooltoe bymekaar verby ry, is dit gerusstellend en wanneer jy hom of haar die dag nie sien nie, behoort jy ’n oproep te maak om te hoor of alles nog reg is.
  • Vra iemand betroubaar om na jou plaas om te sien as jy met vakansie gaan.
  • As jou opstal so geleë is dat jy rondom die werf en store kan ry voordat jy by die huis ingaan, moet jy dit gereeld doen om te kyk of booswigte jou nie iewers inwag nie.
  • Maak ’n plan om ten minste twee ingange na jou opstal te hê en maak seker dat die omgewing om hierdie roetes skoon is sodat jy ver voor jou kan uitsien. Aanvallers kan maklik klippe of ander objekte in die pad plaas om jou te forseer om te stop.
  • Met jul tuiskoms moet plaasbewoners gewapen en gereed vir enige gebeurlikheid wees. Indien moontlik moet ’n elektriese motorhek gebruik word wat met ’n drukknoppie werk om te voorkom dat mens moet uitklim om die hek oop te maak.
Fisiese grense maak dit vir ’n aanvaller moeiliker om by jou uit te kom.
  • Plaasbewoners moet in ’n beveiligde gebied om die huis stilhou sodat hulle dadelik kan wegtrek as hulle aangeval word. Die voertuig se neus moet dus nie na ’n muur toe wys nie.
  • Bome se ondergroei moet skoongesny word, want dit kan ’n skuilplek vir misdadigers wees.
  • Daar moet behoorlike beligting buite huise wees.
  • Gebruik gruis in jou erf of om jou huis as vroeë waarskuwingsteken.
  • Mense op hoewes en kleiner plase wat naby aan mekaar woon, moet bedag op mekaar se diere wees. Honde blaf nie sommer onnodig nie en wanneer die hele buurt se honde blaf, is daar verseker iets aan die gang.
  • Hou genoeg baie kwaai waghonde aan. Hulle is die boer se oë en ore. Hulle moet kwaai genoeg wees om enige mens te byt.
  • Boere moet ’n stelsel in plek hê om die gebruik van brandstof en veevoer te beheer.
  • Veeboere moet hul vee gereeld tel en sorg dat dit op die wetlike voorgeskrewe wyse gemerk is.
  • Kyk uit vir enige tekens soos blikke, houtstompe en klippe wat uit plek lyk, bottels wat rondlê of plastieksakke aan heinings. Kyk ook na gras wat platgelê lyk waar misdadigers skuil om plaasmense se bewegings dop te hou voor hulle aanval. Wees ingestel en bewus van jou omgewing. Kyk ook na vreemde spore en drade wat geknip word.
  • Moenie net op landlyne, selfone en internetfone vir veiligheid staatmaak nie. Belê in tweerigting- en ander soort radio’s en ander hulpmiddels soos ’n sirene wat kan afgaan as jy in die moeilikheid is of selfs kringtelevisie. Moderne tegnologie moet egter nie afgeskiet word nie. WhatsApp-groepe kan baie handig wees om mekaar in te lig oor byvoorbeeld verdagte persone of voertuie in die omgewing. Gemeenskappe met radio’s moet op ’n gereelde basis bymekaar inskakel soos elke oggend en aand. Dit is ook belangrik dat mense byvoorbeeld ’n voorafopgestelde kode vir nood moet hê sodat as jy die een aand inskakel en die persoon die kodewoord gebruik, julle sal weet dat hy of sy in die moeilikheid is. Effektiewe en presiese kommunikasie is van kardinale belang en moet selfs ingeoefen word.
  • Moet onder geen omstandighede jou veilige sone in jou huis na donker verlaat om ondersoek te gaan instel na ’n probleem buite nie. Soos wanneer daar vreemde geluide of alarms of heinings is wat afgaan, krane wat skielik om geen verklaarbare rede loop nie of selfs mense wat huil nie. Boosdoeners dink enigiets uit om mense uit hul huise te lok net om hulle wreed aan te val.
  • Te min mense slaan ag op die sogenaamde vroeë waarskuwings. Heinings wat reg opgestel is en sommer skielik seine gee, is ’n vroeë waarskuwingsteken! Moenie gaan kyk wat fout is nie. Dit mag ’n lokval wees. Ontbied hulp.
  • Indien jy iemand op jou eiendom betrap, moet daar ’n dossier by die polisie geopen word en ’n klag van een of ander aard soos diefstal, betreding of poging tot roof aangelê word. Só moet die persoon se vingerafdrukke geneem word, wat daarop kan dui dat dit ’n gesoekte persoon is of iemand wat dalk op parool uit nadat hy ander misdade gepleeg het.
  • Rapporteer alle verdagte persone of voertuie by jou naaste polisiestasie.
  • Wees baie versigtig met die deel van inligting rondom jou perseel en gewoontes. Huis- en plaaswerkers is dikwels ’n probleem omdat hulle die inligting aan kriminele oordra. Dit is ook verkieslik dat werkers glad nie moet weet dat daar ’n kluis, wapens, kontant of enige ander waardevolle items in jou huis is nie. Daar was al gevalle in misdaadondersoeke waar foto’s van items soos kluise, alarmstelsels op selfone gevind is van werkers wat dié inligting aan boosdoeners deurgegee het. Moenie enigiemand in diens neem voordat die identiteit en agtergrondsgeskiedenis van die persoon vasgestel is nie. Hou rekord van persone wat by jou werk en sorg dat jy foto’s en afskrifte van hul identiteitsdokumente het.
  • Vergoed vertrouelinge wat inligting oor onwettighede verskaf en moedig werkers aan om inligting oor verdagte omstandighede bekend te maak.
  • Werkers of vreemdelinge moet verkieslik nie direkte toegang tot ’n erf hê om by ’n deur aan te klop nie. Bring ’n interkomstelsel buite die hek aan. Te veel kere is plaasmense al oorval deur misdadigers wat voorgee dat hulle werk soek of iets wil koop.
  • Besluit watter vertrek in die huis jul veilige sone is waarheen almal vlug ten tyde van ’n aanval. ’n Badkamer is verkieslik om voor die handliggende redes. Maak egter seker dat die badkamer verder beveilig word deur ’n baie sterk deur en selfs ’n staalplaat aan die agterkant om beter beskerming teen vuurwapens te bied. Binne dié sone is dit uiters belangrik om noodsaaklike medisyne en kommunikasie te hê. Dit is ook raadsaam om ’n selfoon hier te versteek wat altyd gelaai is en net in geval van nood gebruik kan word. Elke gesin behoort ’n veiligheidsplan te hê vir die dag wanneer iets gebeur. Elke gesinslid moet presies weet wat hy of sy ten tyde van ’n aanval moet doen en waarheen hulle moet gaan.
  • Baie bejaarde mense wil nie van hul plase trek of van moderne tegnologie gebruik maak om hul te beveilig nie. Gemeenskappe behoort sulke persone te identifiseer en saam met hul familie koppe bymekaar sit hoe hulle in hul omstandighede beveilig kan word.
  • As jy ’n wapen het, moet jy dit aan jou dra én kan gebruik. Dit help nie dit lê in ’n kluis nie.
  • Te veel boere sien die opskerping van veiligheid steeds as ’n duur en onnodige uitgawe. Die realiteit is egter dat die situasie so ernstig is dat geen onkoste ontsien mag word nie. ’n Mens se lewe is immers meer werd as al die veiligheidstelsels en toerusting.

(Die wenke vir plaasveiligheid is saamgestel uit verskillende bronne soos die georganiseerde landbou, die polisie, privaat veiligheidsmaatskappye asook individuele veiligheidskonsultante soos Dawie Conradie van Radio Connect Systems).

Raymond Hohls is die operasionele bestuurder vir gemeenskapsveiligheid by AfriForum.

Soortgelyke plasings