Parys-tak vergader met munisipale bestuurder oor waterkwessies


AfriForum se Parys-tak het op 16 Augustus 2018 vergader met Bruce Kannemeyer, die munisipale bestuurder van die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit, rakende die voortslepende waterkrisis in Parys.
Die vergadering is versoek deur AfriForum se Parys-tak sodat klagtes vanuit die gemeenskap oor die swak drinkwatergehalte en die haglike toestand van die Vaalrivier direk aan die munisipale bestuur voorgelê kon word. Hierdie klagtes sluit die feit in dat die drinkwater nie op bloudruppelstandaard is nie asook die feit dat hoë vlakke van E. coli in die Vaalrivier aangetref word. Verder is die munisipaliteit ook tydens hierdie vergadering vermaan oor die toestand van beide Parys en Heilbron se vullisterreine.
Die munisipaliteit is versoek om sy kommunikasiekanaal met die gemeenskap te verbeter sodat inwoners ingelig kan word sodra drinkwater weer vreemde kleure vertoon en om aan die gemeenskap te kommunikeer wanneer en ook waarom daar soms glad nie water is nie.
In reaksie op die klagtes het Kannemeyer erken dat daar watervoorsieningsprobleme in Parys is en dat die drinkwater nie voldoen aan bloudruppelstandaard nie, maar hy beweer dat die situasie oor die laaste ses maande verbeter het. Die munisipaliteit het sy hoop uitgespreek dat ʼn 18-maande-ooreenkoms met Rand Water daartoe sal lei dat die werking van die dorp se rioolwerke sal verbeter. Wat betref die vullisterreine het Kannemeyer erken dat dit byna onmoontlik is vir die munisipaliteit om te voldoen aan wetlike vereistes, weens ʼn beperkte begroting.
Die AfriForum-takbestuur sowel as munisipale amptenare het voorstelle gemaak oor hoe hierdie probleme beter aangepak kan word in die toekoms en die tak het onderneem om klagtes rakende riool en water direk aan die verantwoordelike amptenare te rapporteer. AfriForum se Parys-tak het ingestem om te registreer as ʼn belangegroep om sodoende beter insae te hê tot die munisipaliteit se begroting en Geïntegreerde Ontwikkelingspanprosesse in die toekoms.
AfriForum is intussen baie bekommerd oor die uitslae van laboratoriumtoetse op monsters wat geneem is by die uitvloei van Parys se waterwerke. Die uitslae is ontvang op 17 Augustus en wys ʼn E. coli-telling van >8 000, wat ver bo die toegelate limiet van 1 000 is.

Soortgelyke plasings