|

PAS BEKEND: Cholera in Vaalrivier

Die watermonsters wat AfriForum en Save Ngwathe Dinsdag in die Vaalrivier by Parys laat neem het, het positief getoets vir cholera. ’n Geakkrediteerde laboratorium het watermonsters op verskillende plekke in hierdie dorp onder toesig van ’n waterspesialis geneem.

Die eerste watermonster wat by die uitloop van die waterwerke geneem is, is nie met cholera besmet nie. Die tweede watermonster wat by ’n woonhuis in Parys geneem is, het negatief getoets vir cholera maar is wel met E. coli besmet. Die derde watermonster is in die Vaalrivier, ongeveer 10 meter stroomaf van ’n mangat wat al ’n geruime tyd riool in die rivier in stort, geneem. Dit is hierdie einste watermonster wat met cholera én E. coli besmet is. AfriForum wag nog vir die amptelike uitslae, maar die laboratorium het dié organisasie reeds in kennis gestel van die resultate weens die erns van die saak.

Dit is uiters kommerwekkend dat die onttrekkingspunt vir Vredefort se water slegs 1 km van die rioolstorting af is. Dit is juis in Vredefort waar daar ook bevestigde gevalle van cholera is en waar ’n inwoner aan dié virus gesterf het.

Hierdie inligting bewys verder dat die Vaalrivier wel met cholera besmet is. Daar is verskeie plekke waar die rou riool in die rivier invloei weens infrastruktuur wat uitgebrand het of glad nie beskikbaar is nie, beurtkrag en die feit dat daar nie noodbystand soos kragopwekkers of noodpompe is nie.

“Die Departement van Water en Sanitasie (DWS) gaan daadwerklik moet ingryp en AfriForum is bereid om te help. Ons het ook reeds aan hulle genoem dat ons bereid is om te help maar het ongelukkig geen terugvoer ontvang nie,” sê Lambert de Klerk, bestuurder van Omgewingsake by AfriForum.

Karien Viljoen van Save Ngwathe het vandag ’n video by die mangat ter sprake geneem waar dit blyk dat daar selfs bloed by die mangat uitvloei. Die DWS en die munisipaliteit is bewus van hierdie mangat wat oorloop.

AfriForum en Save Ngwathe doen ’n beroep op inwoners van al die dorpe in die Ngwathe-metro om nie kraanwater te drink voordat dit gekook is nie. “Ek hoop dat die owerhede en veral die DWS die lewensnoodsaaklikheid van hierdie probleem besef en by die onbevoegde munisipaliteit sal intree. Die hulp wat AfriForum nou al vir die laaste twee jaar aanbied, word keer op keer geïgnoreer en nou betaal onskuldige mense met hul lewens daarvoor,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

“Dit het ook hierdie week onder ons aandag gekom dat die raad die tegniese bestuurder wat na die wateraanleg moes omsien, geskors het hangende ’n ondersoek. Daar is niemand wat nou verantwoordelikheid vir hierdie wateraanleg neem nie en dit plaas verdere druk op die munisipaliteit en wek groot kommer by lede van die gemeenskap,” sluit Pretorius af.

Soortgelyke plasings