|

Perderuiters onderneem tog ten bate van erfenis en geskiedenis

AfriForum is reeds verskeie jare betrokke by ’n groep ruiters wat sedert 2012 te perd al met historiese roetes langs ry ten bate van ons erfenis en geskiedenis.

Die geselskap van Pretoria bestaan vanjaar uit Theunis van Staden, sy vrou Fiona, hul dogter Mia en Tanya Burger-Kriel. Saam het hulle reeds meer as tweeduisend kilometer te perd afgelê en bewusmaking oor bekende en minder bekende erfenisbakens geskep. Hulle was letterlik al selfs by Putsonderwater! In 2020 het dinge weens Covid-19 stilgestaan en in 2021 is korter ritte in die omgewing van Philippolis onderneem, maar vanjaar word die rit, wat oorspronklik vir 2020 beplan is, uiteindelik voortgesit.

Die vorige tog wat in 2019 plaasgevind het, het van Kimberley tot by die Kalahari-Oranje Museum in Upington gestrek. Vanjaar word dit van Upington af voortgesit tot by die Nakop-grenspos tussen Suid-Afrika en Namibië. In die proses word ook na die interessante geskiedenis van die Rebellie van 1914 gekyk.

Die rit het Sondag (26 Junie 2022) begin. Eers is op die terrein van die Kalahari-Oranje Museum saamgekom. By hierdie museum is ’n standbeeld van ’n donkie wat ’n bakkiespomp aandryf. Hierdie monument is ter ere aan dié geduldige diere se besondere bydrae tot die geskiedenis en ekonomie van Upington en omgewing opgerig. Van die museum af het die ruiters in Schröderstraat afgery tot by die moedergemeente van die NG Kerk. Hulle het verder ook die monument ter ere van die polisie se kameelpatrollie en die terrein van 8 SAI Bataljon besoek. Vroegaand is by Van Rooi’s Vlei afgesaal.

Die groep se vordering, pragtige foto’s en interessante plasings oor die bakens waarby hulle daagliks aandoen, kan op die “Herdenkingsritte” Facebook-groep gesien word. Hulle is ook aktief op Twitter en Instagram.

AfriForum bedank hierdie perde- en geskiedenis-entoesiaste vir die unieke manier waarop hulle bewusmaking vir ons erfenis onderneem. Ons wens almal ’n voorspoedige rit toe!

Soortgelyke plasings