Phiyega moet summier afgedank word


AfriForum dring daarop aan dat lt.genl. Riah Phiyega, geskorste nasionale polisiekommissaris, summier – en sonder ʼn goue handdruk – afgedank word.

“Ons hoop dat die parlementêre portefeuljekomitee na aanleiding van die Claassen-kommissie se verslag oor Phiyega se geskiktheid om haar amp te beklee, sal aanbeveel dat sy summier afgedank word. Phiyega is ’n verleentheid vir die blou uniform en het nooit verdien om haar amp in die polisie te beklee nie,” sê Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid.

Volgens Cameron behoort die verslag komende Donderdag deur die portefeuljekomitee bespreek te word.
Cameron is van mening dat Phiyega ’n groot rol gespeel het in die afbreek van die Suid-Afrikaanse Polisiediens en dat daar verskeie skandale onder haar leiding gebeur het, onder meer die 34 myners wat in die tragiese Marikana-slagting oorlede is:

  • Phiyega het in Augustus 2013 vir lt.genl. Bethuel Mondli Zuma as provinsiale kommissaris van Gauteng aangestel. Sy aanstelling moes later teruggetrek word omdat hy vir strafregtelike oortredings ondersoek is.
  • Phiyega is self in 2013 vir regsverydeling aangekla toe sy lt.genl. Arno Lamoer gewaarsku het dat hy ondersoek word. Lamoer is kort daarna gearresteer vir onder meer korrupsie, bedrog, geldwassery en regsverydeling.
  • Phiyega het tydens die Marikana-ondersoek valse getuienis gelewer en was ook by die konstruksie van verdere valse getuienis betrokke. Hiermee het sy die polisie se etiese kode oortree.
  • Phiyega het geen ondervinding in polisiëring of bestuur nie.
  • Phiyega het geen legitimiteit binne die polisie nie.

Die Burgerlike Sekretariaat vir Polisiediens bepaal dat die persoon wat as nasionale polisiekommissaris aangestel word die nodige kennis, ondervinding en kwalifikasies moet hê.

“Indien die permanente aanstelling van die nasionale polisiekommissaris nie op meriete en sonder enige politieke bymotiewe gedoen word nie, kan dit die polisie se legitimiteit intern en ekstern in die wiele ry,” sluit Cameron af.

Soortgelyke plasings