Phokwane Munisipaliteit minag hofbevel; AfriForum neem aksie


Die burgerregte-organisasie AfriForum het op 8 Februarie 2017 sy regspan opdrag gegee vir die uitreik en tenuitvoerlegging van ’n lasbrief vir eksekusie.
Dit volg nadat AfriForum ’n kostebevel teen die Phokwane Plaaslike Munisipaliteit bekom het in ’n hofgeding wat die munisipaliteit verplig het om onregmatige elektrisiteitstariewe reg te stel. Hoewel hierdie tariewe slegs deur die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) vasgestel kan word, wil dit voorkom asof munisipale amptenare verbonde aan die munisipaliteit hulle nie daaraan gesteur het nie.

“AfriForum het die saak teen die munisipaliteit met koste gewen. Die aanmaning om die regskoste te betaal, is reeds deur die balju op die munisipale bestuurder beteken. Tot op datum was daar egter geen korrespondensie van die munisipale bestuurder nie,” sê Theo Joubert, voorsitter van AfriForum se Vaalharts-tak.
“Om ’n hofbevel te minag is ’n strafregtelike oortreding. Ons kan nie langer toelaat dat munisipale amptenare met optrede soos dié wegkom nie,” sê Linja van Wyk, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Noord-Kaap.
“Op 20 Desember 2016 het die griffier van die hoë hof in Kimberley beveel dat sowat R265 000 se regskoste aan AfriForum terugbetaal moet word. Ondanks die skriftelike aanmaning het die munisipaliteit tot op datum nog niks terugbetaal nie,” sê Hein Gonzales, AfriForum se regs- en risikokoördineerder vir gemeenskapsake.
“Met hierdie lasbrief vir eksekusie gaan ons die munisipaliteit se roerende eiendom deur die balju laat verwyder en op ’n eksekusieveiling verkoop om ons regskoste terug te kry.”

 

Soortgelyke plasings