Piet Retief-buurtwag help om moordverdagte in hegtenis te neem


Die burgerregte-organisasie AfriForum se Piet Retief-buurtwag het onlangs die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) gehelp om ’n verdagte wat van ’n moord in die area verdink word, in hegtenis te neem.
Dít volg nadat die AfriForum-buurtwag op Dinsdag 29 Augustus 2017 inligting ontvang het dat Jan Minnaar, ’n gemeenskapslid, vermis word. Die buurtwag het navraag in hierdie verband gedoen en probeer om Minnaar op te spoor. Dinsdag-oggend is ’n lyk op ’n plaas buite die dorp gekry waarna die SAPS die AfriForum-buurtwag gevra het vir hulp om die moordverdagte op te spoor.

“Ons het onmiddellik gereageer en in samewerking met die SAPD ondersoek ingestel. Die moordverdagte is ook in samewerking met die polisie gearresteer vir verdere navrae. Ongelukkig is die liggaam uitgeken as dié van Jan Minnaar en die moordverdagte het op 30 Augustus ook skuld erken,” sê Gerhard Böhmer AfriForum se buurtwagvoorsitter vir Piet Retief.
“AfriForum betuig hul meegevoel met die gemeenskap en familie van die oorledene,” sê Sarel Nieuwehuizen Piet Retief se takvoorsitter.
“Die moordsaak is ongelukkig van die rol geskrap omdat die verdagte te lank deur die polisie in aanhouding gehou is. Hy is dus nou weer op vrye voet. Die polisie het ons egter die versekering gegee dat hy wel vervolg gaan word en AfriForum sal volgehoue druk op hulle toepas om seker te maak dat dit wel gebeur,” sê Hillel Coetzer, streekskoördineerder vir Mpumalanga-Wes.

AfriForum se Piet Retief-buurtwag is hier om ons gemeenskap by te staan in tye van nood. Ons doen ’n beroep op die gemeenskap om betrokke te raak en aan te sluit deur “Buurtwag” na 45350 te SMS (R1).

Soortgelyke plasings