Piet Retief-buurtwag neem aan nasionale massapatrollie deel


Die AfriForum-buurtwag in Piet Retief het op Vrydag, 1 Desember 2017 saam met WGI Sekuriteit, die SAPD en die plaaslike verkeersdepartement aan ’n aksie teen misdaad deelgeneem.
Die aksie het om 18:00 met ’n beplanningsessie begin, wat deur brig. Alex Gous gelei is, en het gefokus op die sigbaarheid van patrolleerders om misdaad te voorkom en die bekamping van drank- en dwelmmisbruik. Die patrolleerders het Riebeeckpark eerste gepatrolleer, aangesien dit ’n brandpunt van alkoholmisbruik is en ’n gevaar vir die breër gemeenskap inhou.
Meer as tien plaaslike kroeë, waarvan een beboet is, is ook geïnspekteer om te verseker dat alkohol op wettige wyse versprei word.
Plaaslike verkeersowerhede het om 22:00 by die aksie aangesluit en altesaam 14 verkeersoortreders beboet.
Altesaam 29 buurtwaglede het in 15 voertuie aan die patrollie deelgeneem, asook 25 SAPD-lede van verskeie nabygeleë dorpe.

“Dié aksie het ten doel gehad om sigbaarheid te verhoog om misdadigers af te skrik. Mense moet verantwoordelikheid vir hul eie veiligheid binne die raamwerk van die reg neem,” sê Gerhard Böhmer, voorsitter van AfriForum se Piet Retief-buurtwag.
“Die gemeenskap se betrokkenheid was indrukwekkend. Dit is verblydend om te sien dat verskeie instellings kan saamwerk om aksies soos hierdie met sukses te voltooi. Dit is vir AfriForum belangrik om ’n goeie verhouding met die SAPD te hê,” sê Hennie Bekker, distrikskoördineerder vir AfriForum in Mpumalanga.

Raak betrokke deur “Buurtwag” na 45350 te SMS (R1).

Soortgelyke plasings