Plaasaanvalle neem toe – AfriForum


Ondanks bewerings dat plaasaanvalle die laagste in 20 jaar is wys AfriForum se geverifieerde statistiek dat daar oor die afgelope vier jaar ‘n toename was. Slegs in 2018 was daar al amper 200 aanvalle en ons is nog nie in die helfte van die jaar nie. Die huidige moordtendens dui ook aan dat ons meer mense gaan verloor op plase as oor die afgelope drie jaar as elke jaar afsonderlik gemeet word.

“Ons getalle wys duidelik dat daar ʼn toename is in plaasaanvalle dwarsdeur die land; om te sê dat dit laag is of selfs die laagste in twee dekades, is ʼn wanindruk wat by die publiek geskep word,” sê Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid.

Volgens georganiseerde landbou was daar in 2017 amper 54 meer plaasaanvalle as in 2016. AfriForum, die TLU SA en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se gekonsolideerde getalle wys ʼn definitiewe toename die afgelope vier jaar. Dit is onwenslik om getalle slegs oor 20 jaar te vergelyk omdat dit verander weens die drastiese tendensverskille wat plaasvind wanneer politieke leierskap, polisiebestuur en algemene misdaadtendense verander.

“Daar moet veral in ag geneem word dat die Suid-Afrikaanse publiek se fokus op plaasaanvalle oor die afgelope paar jaar toegeneem het. Deur op staatsdepartemente druk toe te pas gedurende hierdie tydperk, is die rapporteringsproses van plaasaanvalle deur die SAPD opgeskerp en kan die syfers van die laaste vyf jaar gesien word as ʼn akkurate weerspieëling van die tipes misdade,” meen Lorraine Claasen, misdaadanalis by die AfriForum Navorsingsinstituut (ANI).
Claasen voeg by dat die huidige situasie ten opsigte van gevalle wat gerapporteer word, aandag moet kry aangesien die situasie en konteks in ons land oor die afgelope 20 jaar drasties verander het. “Daar moet eerder bewustelike pogings aangewend word om huidige syfers te gebruik wat tendense kan bepaal ten einde proaktief op te tree en plaasaanvalle sodoende te verminder,” sê sy.

AfriForum en ANI sal aan die einde van Julie 2018 die 2017/2018-plaasaanvalleverslag bekendstel.

Soortgelyke plasings