|

Plakkate op kampusse wys Afrikaanse studente op hul regte

AfriForum Jeug het vandeesweek verskillende plakkate op die kampusse van die Puk, Tukkies, Kovsies en Maties opgesit om Afrikaanse studente oor brandende kwessies in te lig.
Eduan Dupper, ondervoorsitter van AfriForum Jeug, het gesê die doel van die projek is om groter bewustheid onder studente te skep oor sake wat hulle direk raak en teen hulle diskrimineer.

“Studente moet meer krities dink en opstaan vir hul regte soos om in Afrikaans onderrig te ontvang.”
Volgens Dupper is daar toenemend voorvalle op kampusse waar die regte van studente misken word. “Studente moet bewus gemaak en gemobiliseer word om teen enige vorm van diskriminasie in opstand te kom.”

AfriForum Jeug het sowat ’n duisend plakkate met uiteenlopende boodskappe versprei.
By die Universiteit van Stellenbosch is die boodskappe: “Afrikaans is my reg”, “#OpenStellenbosch will close Stellenbosch”, “Ons sluit deure en brand brûe, ons is #OpenStellenbosch”, “For straw man arguments, support #OpenStellenbosch”.

By die Universiteit van die Vrystaat en die Universiteit van Pretoria lui plakkate: “Transformation = Race Discrimination”, “Ras open jou deure. Wat is my sleutel?”, “Afrikaans is hier om te bly”.

Op Kovsies was daar ook ’n boodskap vir prof. Jonathan Jansen, rektor, wat onlangs gedagvaar is deur twee studente. Hulle eis skadevergoeding van meer as R1 miljoen van hom na ’n voorval wat as rassisties afgemaak is, terwyl hulle in ’n hof en deur die Menseregtekommissie onskuldig bevind is. Dié plakkaat lui: “Prof. Jansen, Afrikanerskap maak my nie ’n rassis nie”.

Op die Puk-kampus van die Noordwes-Universiteit lui plakkate: “Prof. Kgwadi, hoor jy die stemme? Dit is dié van studente wat kla”, “Nuwe model lyk na ’n politieke agenda”, Transformasie: Swart in; Wit uit.

Anita Erasmus, ’n student van Pretoria, het gesê baie studente is positief oor die veldtog en stem saam met die boodskappe op die plakkate. “Dit word al hoe moeiliker om te sê wat mense dink en op grondvlak ervaar. Ek is trots daarop dat AfriForum Jeug bereid is om namens ons ’n stem te wees.

“Ek dink ook dit is nodig dat dosente en die universiteitsbesture op die manier kennis neem van watter gevoel daar onder studente is omdat hulle toenemend onderdruk en stilgemaak word.”
Die plakkate is nadat dit aangebring is, deur sekuriteit op die Tukkie-kampus verwyder, terwyl SR-studente dit by die Puk afgehaal het.

Soortgelyke plasings