|

Plakkershutte word afgebreek ná AfriForum uitsettingsbevel kry

Die openbare orde eenheid van die polisie (Pops) het vanoggend begin om onwettige strukture op die grond van private grondeienaars in die Marikana-omgewing af te breek nadat AfriForum verlede Vrydag ’n uitsettingsbevel in die Mafikeng-hooggeregshof in Noordwes gekry het.

Mnr. Dougie Lake en sy pa, Johan van der Merwe, van die Rooikoppies-plotte in die Buffelspoort-omgewing, was die afgelope twee weke in ’n stryd gewikkel om die polisie en balju se hulp te kry om die onwettige besetters van hul grond te verwyder.

Lake en Van der Merwe woon in Randfontein en ry elke dag na hul eiendom naby Marikana waar hulle ’n werkswinkel bedryf.

Hulle is verlede Saterdag deur ’n werknemer wat op die plot bly, ingelig dat ’n groep mense besig is om die grond te beset. Die besetters het begin om pale in te slaan en afmetings te doen. Hulle het met voertuie op die plot aangekom en van hulle het rooi T-hemde soos die van die EFF gedra.

Die eienaars het probeer om ’n klag van betreding by die polisie aanhangig te maak, wat na bewering net bereid was om ’n inskrywing in die voorvalle-boek te maak.

Hulle het ook probeer om ’n uitsettingsbevel by die landdroshof in Rustenburg te kry.

Volgens Lake is hulle sonder sukses deurentyd tussen verskillende polisielede verwys. “Ons is van bakboord na stuurboord gestuur en het die indruk gekry dat die polisie ons nie wil help nie.

“’n Mens kan nie vir ’n ander beskryf wat deur jou kop gaan as mense onwettig op jou eiendom begin aankom en sommer net begin penne inkap en sinkhuise bou nie,” het Lake gesê.

Die aanvanklik paar huisies het in ’n kort tyd tot meer as 50 aangegroei en die mense het ook baie meer geword.

Pieter Rautenbach, AfriForum se algemene raadgewer van gemeenskapstrukture, was by toe daar met die afbreek en verwydering van die strukture begin is.

Volgens Rautenbach wil dit voorkom asof die onwettige besetting beslis georkestreer was. Hy het gesê duursame materiaal is gebruik in die oprigting van die strukture waarin mense beoog het om te bly.

Van die EFF-lede op die toneel het glo aangevoer dat hulle nooit geweet het dit is private grond waarop begin is om die strukture op te rig nie.

Na baie dae se gesukkel om die uitsettingsbevel uitgevoer te kry, het Rautenbach gesê die Pops het die situasie goed hanteer en verseker dat die situasie te alle tye veilig is.

Lake en Van der Merwe was die afgelope twee weke magteloos omdat hulle nie geweet het wat hulle te doen staan om die plakkers verwyder te kry nie.

Van der Merwe het gesê dit is ’n verskriklike tyd waardeur hulle is. “Ons kon nie met ons gewone werk voortgaan nie en soveel geld is in die proses verloor.”

Hoewel die polisie en balju hulle bygestaan het om toe te sien dat die uitsettingsbevel uitgevoer word, moes hulle vir die arbeid betaal om die strukture te laat afbreek.

“’n Mens kan nou ’n eis teen die staat instel, maar wie weet hoe lank dit nou weer kan sloer?”

Hy het gesê hulle is wel verlig dat die laaste van die strukture afgebreek is. “Ons sal die situasie nou fyn moet dophou en onmiddellik optree wanneer daar weer soortgelyke optrede is. Ons kan nie toelaat dat dinge weer so ver gaan nie.”

 

 

Soortgelyke plasings