| |

POLISIE EN AFRIFORUM-BUURTWAG NEEM ONWETTIGE IMMIGRANTE IN HEGTENIS

Op 9 April 2021 het AfriForum se Musina-buurtwag die polisie en plaaslike verkeersdepartement gehelp met ’n operasie om mense wat in die plaaslike poskantoor ingetrek het, te verwyder. Altesaam agt onwettige immigrante is tydens die operasie in hegtenis geneem.

Hierdie operasie volg ná ’n vergadering vroeër vandeesweek met die Musina Business Chamber, die polisie, AfriForum se Musina-tak en die gemeenskap. Die kwessie rondom die mense wat in die poskantoor ingetrek het, is bespreek waarna die polisie onderneem het om ’n operasie van stapel te stuur. Die polisie het gevra dat die buurtwag hul ondersteun tydens die operasie.

“Ons het verskeie klagtes ontvang van inwoners oor die omstandighede by die poskantoor. Dit was byna onmoontlik om die poskantoor te besoek. Op baie kort kennisgewing kon ons aan hierdie aksie deelneem. Ons wil die polisie en die verkeersdepartement bedank vir die erns waarmee die saak hanteer is, en in besonder die buurtwaglede wat vroegoggend, voor ’n normale werksdag, aangemeld het om die gemeenskap te help beveilig,” sê Kobus Boshoff, voorsitter van AfriForum se Messina-tak.

“Ondernemings en die gemeenskap word lamgelê deur wetteloosheid. AfriForum stel hul ten doel dat ons gemeenskappe hier in Suid-Afrika vry, veilig en voorspoedig bly voortbestaan. Dit sal egter nooit realiseer sonder takke en buurtwagte wat die plaaslike vermoë om die doelwitte te bereik, help vestig nie. Die buurtwaglede se opoffering en samewerking gee vir ons almal moed. As jy in die Musina-omgewing woon, sluit aan by hierdie dinamiese span,” sê Andries Opperman, AfriForum se provinsiale veiligheidskoördineerder vir Limpopo.

Om betrokke te raak by AfriForum se buurtwag in Messina, laai die Telegram-toep af en soek vir @AfriForumBuurtBot (https://t.me/AfriForumBuurtBot).

Soortgelyke plasings