|

Polisie gaan bevelvoerder ondersoek wat erfenis vernietig

AfriForum verwelkom die besluit van die SAPD se sentrum vir uitnemende diens om die bevelvoerder van die polisie se opleidingskollege in Hammanskraal, noord van Pretoria, intern te ondersoek nadat hy glo opdrag vir die vernietiging van ’n gedenkteken gegee het.
Brig. J.N. Magane het glo die gedenkteken laat vernietig wat opgerig is ter nagedagtenis aan die 13 SAPD-studente wat op 29 Januarie 1988 in ’n busongeluk tussen Oudtshoorn en Mosselbaai dood is. Hulle was deel van ’n gimnastiekspan wat aan die Dias-fees in Mosselbaai sou deelneem.

Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, het die polisie verlede maand versoek om dié skending van erfenis dringend te ondersoek. “Optrede van dié aard waar Suid-Afrikaanse erfenisse summier vernietig word en mede-Suid-Afrikaners se opofferings misken word, kan nie toegelaat word nie,” het sy gesê.
Bailey het gesê die optrede van Magane stuur ’n uiters negatiewe boodskap van disrespek teenoor erfenisbewaring in die algemeen, maar meer spesifiek teenoor alle lede van die SAPD wanneer die lewens van hulle wat aan diens gesterf het, volgens ’n bevelvoerder nie meer herdenking verdien nie.
Bailey het die interne ondersoek verwelkom, maar bygevoeg dat die spoed waarmee die ondersoekspan gaan reageer, sal bewys of die SAPD werklik ernstig is oor die bewaring van hul voorgangers se nalatenskap.
Forum Nuus het vroeër berig dat Magane glo nie net van die gedenkteken by die Hammanskraal-kollege ontslae geraak het nie.
Hy het na bewering ook vroeër toe hy by die Berede- en honde-eenheid van die polisie in Pretoria-Wes aan die stuur van sake gestaan het, opdrag gegee dat die ou polisie-embleem summier verwyder word. Dit is die embleem wat vroeër die landswapen in die polisiester gehad het. Die landswapen is toe met aalwyne vervang.
Verskeie trofees, medaljes en ander gedenk-items is ook by die honde-skool uit die vertoonkas laat verwyder. Dis is onbekend waar dié items gehou word en of dit net spoorloos verdwyn het.
Oudkollegas van Magane het gesê hy maak geen geheim daarvan nie dat enige tasbare geskiedkundige gedenktekens volgens hom deel van apartheid is en geen plek in die huidige Suid-Afrika verdien nie.

Soortgelyke plasings