|

Polisie moet eerder misdadigers as wettige vuurwapeneienaars ontwapen

Die minister van polisie, Bheki Cele, moet eerder daarop fokus om misdadigers in plaas van wettige vuurwapeneienaars se regte te beperk.

Só meen Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum. Hy het gereageer op Cele se onlangse uitlatings dat hy droom van ’n Suid-Afrika sonder vuurwapens omdat daar “baie minder moorde plaasvind in lande waar individue nie vuurwapens mag besit nie, soos Japan en Suid-Korea”.

Cele het vandeesweek tydens ’n mediakonferensie by die Linden-polisiekantoor in Johannesburg gesê die meeste mense wat in Suid-Afrika vermoor word, word met gesteelde vuurwapens geskiet. Hy het ook beklemtoon dat die SAPD vuurwapens meer doeltreffend kan beheer en opspoor as individue toegelaat word om ’n beperkte aantal vuurwapens te besit.

Volgens Cameron is Cele weer eens besig om ander se vryheid te probeer inperk terwyl sy eie huis nie orde is nie. “Sowat 9,5 miljoen rondtes ammunisie en 4 357 vuurwapens wat in die polisie se besit was, het in die afgelope ses jaar verdwyn. Hierdie ‘verlore’ vuurwapens is heel moontlik reeds deur verskeie misdadigers se hande.”

Cele het ook aangekondig dat 2 266 vuurwapens en meer as 31 000 patrone as deel van die jongste amnestieveldtog sedert die begin van Desember by polisiekantore landwyd ingehandig is. Die vuurwapens word volgens die minister “op veilige plekke in elk van die nege provinsies bewaar”.

Hy het self erken vuurwapens word uit polisiekantore gesteel, maar gesê stappe word nou gedoen om die mense wat daarvoor verantwoordelik is, aan te keer. Die wapens wat met die amnestieproses ingehandig is, sal vernietig word nadat dit getoets is. Volgens Cele sal die amnestieproses help om die aantal onwettige vuurwapens wat in die verkeerde hande beland af te bring.

Marnus Kamfer, regs-en-risikobestuurder by AfriForum, meen Cele wil die polisie se werklading tot nadeel van wetsgehoorsame burgers verlig in plaas daarvan om eerder te fokus op die versterking van die SAPD.

Verskeie organisasies wat teen die amnestieproses gekant is, is ongeag Cele se beloftes ook steeds bang die vuurwapens beland in die hande van misdadigers.

Fred Camphor, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Jagters- en Wildbewaringsvereniging, het verlede week aan die media gesê dat hierdie amnestie niks anders as politiekery is nie. Hy het daarop gewys dat gesamentlik 120 000 vuurwapens in die twee vorige amnestietydperke ingedien is en dat geen vuurwapen met enige misdaad verbind is nie. “Misdadigers dien nie ongelisensieerde vuurwapens in nie, maar eerder mense wat keelvol is vir die lisensie-regime,” het Camphor gesê.

Die Nasionale Jag-en-Sportskietvereniging (NHSA) en die polisie het gister in die hooggeregshof in Pretoria ’n skikking oor die vuurwapen-amnestie bereik.

Die SAPD het ingestem om die aansoeke vir die hernuwing van bevoegdheidsertifikate om ’n vuurwapen te besit én vir nuwe vuurwapenlisensies gelyktydig in te neem.

Herman Els, uitvoerende voorsitter van die NHSA, het gesê die NHSA het geskik op voorwaarde dat die polisie se voorskrif na alle polisiekantore gestuur sal word. Die NHSA het ook gevra dat vuurwapeneienaars toegelaat word om tydens die hernu-proses hul wapens in hul besit te hou omdat mense nie die polisie met die veilige bewaring van vuurwapens vertrou nie.

Die NHSA se aanbeveling aan sy lede wat vuurwapens het waarvan die lisensies verval het, is om aan die amnestieproses deel te neem, maar om eers vooraf ’n waardasie by ’n wapensmid vir ’n betrokke vuurwapen te kry sodat daar ’n dokument is waarvolgens ’n eis ingestel kan word indien die vuurwapen verlore raak.

Volgens Kamfer sal AfriForum ook voortgaan om enige voorstelle ten opsigte van vuurwapeneienaarskap, asook voorgestelde wysigings aan die Wet op die Beheer van Vuurwapens 60 van 2000, dop te hou.

Soortgelyke plasings