|

Polisie, NVG reageer na AfriForum ingryp by kindermishandelingsaak

Nog ’n onskuldige kind is klaarblyklik deur die Suid-Afrikaanse regstelsel versaak ondanks pres. Cyril Ramaphosa se beloftes dat daar veral tydens die staat van inperking streng teen vroue- en kindermishandeling opgetree gaan word.

AfriForum se Privaatvervolgingseenheid het onlangs twee dokters en ’n maatskaplike werker by ’n polisiestasie in Pretoria bygestaan om strafregtelike klagtes van poging tot moord, aanranding met die opset om ernstig te beseer en kindermishandeling teen die ouers van ’n vyf maande oue babadogtertjie (oftewel Baba N) in te dien. Sy is vanjaar reeds twee keer in die hospitaal vir onder meer beenbreuke opgeneem.

Baba N is vir die eerste keer in April vanjaar (toe sy vyf weke oud was) in ’n hospitaal in Pretoria opgeneem. Die dokters wat haar behandel het en ’n privaat maatskaplike werker het ’n saak by die polisie en Departement van Maatskaplike Ontwikkeling ingedien nadat haar beserings met dié van kindermishandeling ooreengestem het. Die polisie het die saak aanvanklik ondersoek. Die pa van die baba het in die hof verskyn en die aanklaer het die saak op 2 Junie 2020 onverklaarbaar teruggetrek. Die polisie het daarna die betrokkenes ingelig dat die saak gesluit is weens “’n gebrek aan getuienis”. Die optrede het gevolg ondanks die bewerings dat die baba se ribbes op 15 plekke gebreek was.

Die departement het, volgens inligting wat aan AfriForum verskaf is, in April besluit om die baba tydelik in haar ouma se sorg te plaas waarna sy weer op 1 Mei na haar ouers teruggekeer het.

Baba N is toe in Julie vir ’n tweede keer en met nóg beenbreuke opgeneem. Ondanks die ouers se bewering in April dat haar beserings aan ongelukke toegeskryf kan word, meen die dokters wat haar ondersoek en behandel het dat dit eerder op herhaaldelike kindermishandeling dui.

“Toe die babatjie die tweede keer by ons opgeneem is, was sy erg gedehidreer en in soveel skok. Sy was ook vêr onder die gewigmylpaal vir haar ouderdom en was rasend honger. Ek het op daardie oomblik gedink ons gaan haar verloor,” vertel die pediater wat Baba N behandel het.

Sy sê voorts dat ’n MRI-skandering beserings getoon het wat heel moontlik veroorsaak is deur iemand wat die baba erg geskud het.

“Daar is êrens gebreke in die sisteem, want kinders word nie beskerm nie. Ek sal al my geld daarop verwed dat as hierdie babatjie ’n derde keer moet terugkom hospitaal toe ons haar nie wéér kan red nie,” sê die ortopeed wat Baba N ondersoek het.

Toetse het gewys dat Baba N se sleutelbeen twee tot drie weke vóór haar opname ’n fraktuur opgedoen het en volgens die ortopeed breek ’n baba se sleutelbeen nie maklik per ongeluk nie. Daarbenewens was beide haar femurs gebreek en die tekens van verskeie gebreekte ribbes was nog sigbaar. “Die enigste manier wat ’n baba hierdie tipe frakture kan kry, is as jy hom of haar vashou en hard op hulle sleutelbeen voor en agter op hulle ribbes druk. Dit ál manier wat sy daardie tipe frakture kon opdoen.”

Sy vertel verder dat alle genetiese en metaboliese toetse ook gedoen is om verskeie siektes uit te skakel en dat ‘n pediatriese genetikus ook genader is om seker te maak dat die babatjie nie enige ander probleme het nie. Haar ondersoek het verder getoon dat Baba N ’n baie spesifieke fraktuur, wat kenmerkend van kindermishandeling is en by meer as 50% van mishandelde babas voorkom, opgedoen het. Niks kan volgens haar dié tipe frakture verklaar behalwe nie-toevallige beserings nie.

Ondanks haar beserings en erge trauma, herstel Baba N volgens haar dokter goed. “Sy is ’n pragtige, vriendelike baba en almal staan tou om haar vas te hou. Sy kan ’n goeie en gesonde lewe lei, ons moet haar net in die sorg kry van iemand wat werklik lief is vir haar en mooi na haar sal omsien.”

Die maatskaplike werker wat Baba N se saak hanteer, sê dat dit veral ’n reuseskok en ontstellend was toe Baba N vir ’n tweede keer in die hospitaal beland het. Sy beskryf die aanmeldingsproses by die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling ook as “lank en uiters frustrerend”. “Ek het myself al dikwels afgevra of Baba N sal oorleef as sy teruggaan na haar ouers toe en of dit nie die volgende keer te laat gaan wees nie.”

Sy het benadruk hoe belangrik dit vir alle betrokke partye was om die baba so gou as moontlik in bekwame en veilige hande te plaas. “’n Klein babatjie soos sy het nie die vermoë om te praat nie, en het ook nie die vermoë om grense te stel soos ons kan nie. Daarom moet mense soos ek en die dokters namens haar praat. Sy skree om hulp en gelukkig het ons en iemand soos AfriForum dit gehoor.”

Volgens Andrew Leask, hoofondersoeker by AfriForum se Privaatvervolgingseenheid, is dit skokkend dat die polisie en ander owerhede hulle plig tot só ’n mate versaak dat ’n kind aan erge mishandeling onderwerp word. “Die owerhede se weiering om hulle mandaat uit te voer en die babadogtertjie te beskerm, staan in skrille kontras met politici se beloftes dat geweld teen kinders en vrouens tot die ergste graad gestraf moet word,” sê Leask.

Benewens die klagtes het die Privaatvervolgingseenheid ook in skrywes aan die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling en SAPD geëis dat dié saak onmiddellik aandag geniet om verdere trauma vir dié slagoffer te voorkom. In hul brief aan die polisie beskryf die eenheid die sluiting van die saak as “onverklaarbaar en skokkend” en sê dat die polisie se nalatigheid moontlik daartoe gelei het dat Baba N weer in ’n omgewing geplaas is waar sy mishandel is en gevolglik vir ’n tweede keer in die hospitaal beland het.

Volgens adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se Privaatvervolgingseenheid, is die afwesigheid van beslissende optrede deur owerhede in hierdie geval onverskoonbaar. “Hierdie optrede dui daarop dat die regering se openbare stellings dat sake teen die kwesbares in ons gemeenskap geprioritiseer moet word, bloot lippetaal is.”

Daar is egter reeds aanduidings dat die polisie moontlik met groter erns na die saak gaan kyk. Luidens mediaberigte het lt.genl. Elias Mawela, die Gautengse polisiekommissaris, ’n ondersoek gelas na hoekom die klagte teen Baba N se ouers laat vaar is. Brig. Mathapelo Peters, polisiewoordvoerder in Gauteng, het ook gesê dat hy bekommerd is oor die onderliggende bewerings dat die polisieondersoek in hierdie saak gebrekkig was.

Die Nasionale Vervolgingsgesag het verder na bewering belowe om ondersoek in te stel teen die staatsaanklaer wat besluit het om nie Baba N se ouers te vervolg nie.

 

Soortgelyke plasings