Polisie vervolg kwaadwillig ná #SwartMaandag


Dit het onder AfriForum se aandag gekom dat daar in Limpopo, die Vrystaat en KwaZulu-Natal onregmatig op gemeenskapslede se aanmelding by polisiestasies aangedring word na aanleiding van hul betrokkenheid by vandeesweek se #SwartMaandag-betogings regoor die land. 

“Die polisie is nou besig met politiekery en hul skending van mense se burgerregte getuig van hul onvermoë om misdaad en veral plaasmoorde hok te slaan. Die polisie probeer die fokus vanaf die slagting van boere in Suid-Afrika met politieke aksies verskuif. Dit is erg genoeg dat polisieminister Fikile Mbalula nuus oor hierdie aangeleentheid fabriseer en versprei. Dié heksejag bewys juis die politisering van die polisie in die land,” sê Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid.

Genl-maj. J.J. Tsotsesti het ook in ’n foonoproep vir Ernst Roets, adjunk-uitvoerende hoof van AfriForum, op #SwartMaandag met optrede gedreig. Dié generaal kon egter geensins aandui wat hierdie aanklagtes sou wees nie.
AfriForum, TLU SA en die Solidariteit Beweging stap weer op 25 November 2017 teen plaasmoorde na die Uniegebou in Pretoria.

“Ons moedig lede van die publiek aan om ons te kontak indien daar onregmatig teen hulle opgetree word,” sê Cameron.

Soortgelyke plasings