| |

Polisiebeamptes betrokke by beweerde onregmatige arrestasie binnekort in hof

Deur Jhua-Nine Wyrley-Birch

Die Tshwane Metropolisielede (TMPD) wat Kymie du Toit in Desember 2019 in Pretoria afgetrek en na bewering onregmatig gearresteer het, gaan binnekort op klagtes van aanranding in die Hatfield Landdroshof vervolg word.

Dít volg nadat AfriForum in 2020 aangekondig het dat die Privaatvervolgingseenheid vir Du Toit gaan bystaan met die strafregtelike klagtes wat sy teen die betrokke beamptes aanhangig gemaak het.

Du Toit, ’n kleuterskoolonderwyseres, is glo hardhandig deur metropolisielede behandel nadat sy in November 2019 by ’n vulstasie in Moreletapark, Pretoria, deur beamptes uit haar motor gepluk is. Sy was op pad huis toe nadat sy kinders in die Cornwall Hill-landgoed opgepas het en deur ’n metropolisiebeampte beduie is om stil te hou.

Sy het egter stadig met haar noodligte aangeskakel na ’n nabye vulstasie gery met die doel om daar te stil te hou, omdat sy onveilig gevoel het by die donker kruising waar die beamptes haar wou aftrek.

Kymie du Toit. Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch

“Ek was angsbevange en daar is vir my gesê ek sal nie die nag oorleef nie.”

Kymie du Toit

Beeldmateriaal van die vulstasie wys hoe Du Toit uit haar motor gepluk en hardhandig in die polisie se minibus gedwing is. ’n Alkoholtoets was negatief, maar sy is uiteindelik van roekelose en nalatige bestuur aangekla en is saam met manlike gevangenes by ’n polisiekantoor aangehou.

Volgens AfriForum se Privaatvervolgingseenheid is die dossier gister na hierdie hof oorgeplaas en die verdagtes sal nou gedagvaar word nadat ’n hofdatum vir hul eerste verskyning bepaal is. Du Toit se  regsverteenwoordigers het vroeër vanjaar ook aangekondig dat sy R1,3 miljoen van die metroraad asook R300 000 van die Minister van Polisie eis. “Ek was angsbevange en daar is vir my gesê ek sal nie die nag oorleef nie. Ek doen wat ek nou doen om te keer dat iemand anders in ’n soortgelyke situasie beland en moet deurgaan waardeur ek is. Polisie-brutaliteit moet eindig. Dit traumatiseer en verwoes ’n mens se lewe,” het sy in 2020 tydens ’n mediakonferensie gesê.

Adv. Gerrie Nel. Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch

Volgens adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se Privaatvervolgingseenheid, het die beeldmateriaal van die voorval opslae gemaak. “Die doel van instellings soos die metropolisie en die SAPD bestaan met die doel om die burgery te beskerm, maar dit blyk egter dat sommige beamptes die teenoorgestelde doen.

“Beamptes wat skynbaar hulle mag misbruik, moet daarvoor verantwoordbaar gehou word. Die Privaatvervolgingseenheid sal daarom voortgaan om vir Kymie te ondersteun deur die hofverrigtinge te monitor om seker te maak dat geregtigheid geskied. Ons sal nie moeg word om te sorg dat die strafregstelsel behoorlik funksioneer nie.”

AfriForum het ook ’n stel handige wenke vir motoriste opgesteloor wat hul te doen staan indien hulle deur metropolisielede versoek word om omkoopgeld te betaal of deur beamptes se optrede geïntimideer voel. Dié riglyne is hier in Afrikaans, Engels en Sepedi beskikbaar.

Soortgelyke plasings