|

POLISIEMAGSMISBRUIK “GROOTSTE VERNEDERING” OOIT VIR SAKEMAN

Polisiemagsmisbruik het skerp toegeneem tydens die COVID-19-pandemie met tientalle mense wat vir netelige oortredings onregmatig in hegtenis geneem is. Hierdie is die nagmerrie-vertelling van ’n vername sakeman, dr. Hinner Köster, van Pretoria wat ook onlangs ’n slagoffer was.

Ek en my lewensmaat, Ensli Strydom, en ’n derde inwoner van die Silver Lakes-landgoed het die aand van 12 Februarie 2021 erg deurgeloop toe ons tussen 5 en 10 minute ná die aandklokreël se voorgeskrewe tyd by die hek van die Silver Lakes-landgoed  aangekom het nadat ons weens die GPS-aanwysings op pad huis toe effens opgehou is.

Ons was van Menlopark af op pad huis toe en die GPS het ons deur woongebiede geneem waar ons effens opgehou is. Eerder as om te jaag en die spoedgrens te oorskry, het ons besluit om nie die vyf minute te probeer opmaak om voor die aanvang van aandklokreël by die huis te probeer kom nie.

Kort nadat ons van die N4-hoofweg op Solomon Mahlangu-rylaan gedraai het, het ons gemerk ’n polisievoertuig, wat uit die rigting van Mamelodi gekom het, agtervolg ons. Die polisie het hul blouligte begin flits en aangedui dat ons moet aftrek.

Ons het die veiligheidsrisiko ontleed na aanleiding van heelwat mediadekking die afgelope tyd oor voertuie met vals polisieligte en het besluit om stadig tot by die Silver Lakes-hek sowat ’n kilometer of twee verder te ry. Die hek is goed verlig en daar is ook sekuriteitswagte en –kameras in plek. Ons het nie vir die polisie probeer wegjaag nie en juis ons spoed nog heelwat verminder. Hulle het ons egter steeds op ’n gevaarlike wyse by ’n blinde streep van die pad probeer dwing en in die proses amper teen ’n aankomende voertuig gebots.

By die hek aangekom het een van die polisiebeamptes nader gestap. Hy was uit die staanspoor aggressief en wou homself glad nie identifiseer nie. Hy het net herhaaldelik gesê: “My naam is my naam”, terwyl hy voorts die bestuurder van die motor daarvan beskuldig het dat sy roekeloos bestuur het, omdat sy nie dadelik stilgehou het nie. Ek het aan hom verduidelik dat met al die negatiewe berigte wat ’n mens hoor oor misdadigers wat hulle as polisiebeamptes voordoen, ons besluit het om eerder tot by ’n veilige punt te ry voor ons stop. Op grond daarvan het die beampte my beskuldig dat ek aangedui het dat die polisie nutteloos is.

Die bestuurder van die motor het ongelukkig nie haar bestuurslisensie by haar gehad nie, maar kon dit binne minute aan die beampte toon nadat sy haar seun binne die landgoed gebel het om dit te bring. Die polisie het herhaaldelik ongevraagde krutaal gebruik en onder meer gesê “shut your dirty mouth” en ook dat ons nie moet dink ons is onaantasbaar omdat ons agter hoë mure bly nie.

Ons het herhaaldelik gevra waarvoor hulle ons nou werklik wou aankla en beboet. Eers was dit vir roekelose bestuur, toe wou hulle die bestuurder beboet oor haar lisensie wat sy nie dadelik kon wys nie en toe dui hulle aan dis omdat ons nie maskers in die voertuig op het nie. Die aandklokreël is in daardie stadium nog glad nie genoem nie.

Hulle het gesê die bestuurder moet ’n boete kry, maar dat dit net by die Silverton Polisiekantoor gedoen kan word. Selfs nadat ons aangedring het om die boete op die plek te kry, al het ons nie geweet waarvoor nie en omdat ons onveilig en agterdogtig gevoel oor wat by die polisiekantoor kon gebeur, het hulle gesê hulle sal hulp inroep en ons met geweld arresteer as ons nie vrywillig saam polisiekantoor toe ry nie.

Hulle het hulp ingeroep van onder andere polisievroue. Aanvanklik wou hulle slegs die motorbestuurder op haar eie polisiekantoor toe neem om ’n boete uit te reik. Ons was nie hiermee gemaklik nie en het geweier. Toe het hulle gesê hulle gaan ons op die plek arresteer en met die vangwa polisiekantoor toe vat. Teen ons wil het ons toe besluit om die bestuurder van die voertuig te ondersteun en maar saam met haar na die polisiekantoor toe te ry  om die boete te kry sodat ons net weer veilig by die huis kon kom. Ons al drie en die bestuurder se seun is uiteindelik na die Silverton Polisiekantoor in die bestuurder se kar.

Die polisie wou toe die klagte verander, maar hulle wou nie vir ons sê na wat nie. Toe ons egter aandring om te weet waarvoor ons aangekla word, het hulle gesê dis omdat ons die aandklokreël met vyf minute oorskry het.

By die polisiekantoor is die bestuurder van die motor en haar seun die gebou binne met die veronderstelling dat sy net ’n boete moet kry. In die polisiekantoor is hulle hardhandig deursoek. Ek en Ensli het in daardie stadium in die motor gewag aangesien ons nie gedink het ons as passasiers is skuldig aan enige van die klagtes wat voorgehou is nie.

Verskeie polisiebeamptes het toe om die motor kom staan en aangedui dat hulle ons ook in hegtenis neem. Die kwessie van die aandklokreël is toe vir die eerste keer geopper.

Ons is na die aanhoudingselle gelei en twee groot deure is onmiddellik agter ons toegetrek en gesluit.  Die bestuurder se seun het in daardie stadium buite gebly en alles waargeneem.  In ’n stadium het een van die polisiebeamptes sy wapen uitgehaal en vir die seun gewys hy moet loop.

Die polisievroue het vir byna ’n uur in die oop area waar die selle geleë is sonder enige rede hardhandig opgetree. Die klagte wat toe aan ons gestel is, is oortreding van die aandklokreël en weerstand teen arrestasie.

Eersgenoemde is debatteerbaar, maar laasgenoemde is ’n blatante leuen. Die tyd op die klagstaat is as 23:30 aangedui eerder as die ±23:05 toe ons voor Silver Lakes gestop het. In die polisiekantoor het die polisiebeamptes die hele tyd aan die vroue geruk en gepluk en probeer om Ensli se ringe van haar vingers te ruk. Dit het gebloei. Hulle is ook met pepersproei bygedam en die bestuurder is so hard gestamp dat sy op haar rug te lande gekom het. In die sel het een van die vrouebeamptes na Ensli geloop en haar aan haar baadjie geruk en gesê sy wil haar ’n les leer waarna sy ook in die gesig met pepersproei gespuit is.

Ensli en die bestuurder van die motor was vir omtrent drie ure verblind en haar oë en hande het dae daarna nog gebrand as dit met water in aanraking kom.

Ten tyde van die voorval het een van die vrouebeamptes en ’n manlike een later na die sel teruggekeer waar hulle Ensli om verskoning gevra het. Sy het egter aangedui dat indien sy nie die pepersproei gebruik het nie, sy “hulle sou moes skiet”.

Ek is in ’n ander sel geplaas waar vier mans later aangesluit het wat vir “soortgelyke misdrywe” beskuldig is. Die sel was klein, baie vuil en het erg na urine geruik.

Ons moes langs mekaar lê op baie dun matrasse om in te pas en van sosiale afstand was geen sprake nie.  Nêrens was daar ook sanitasiemiddels sigbaar om ons teen COVID te beskerm nie. Geen voorbeeld is dus gestel by die polisiekantoor wat die toepassing van die COVID-reëls betref en waarvoor ons uiteindelik aangekla is nie.

Ons is die volgende oggend vrygelaat, danksy ’n polisiekaptein wat bewus geraak het van die onregverdige optrede.

Die polisie het ’n verklaring geskryf waarin daar onder meer oor die tyd van die insident gejok is. In die verklaring is ons ook as aggressief bestempel wat ’n blatante leuen is. Ons is ook daarvan beskuldig dat ons ons teen arrestasie verset het, net omdat ons wou weet waarvoor ons nou eintlik aangekla word.

Hierdie is een van die mees vernederende ondervindings in ons lewens en ons kan dit eenvoudig nie net so aanvaar nie. Hierdie kwaadwillige optrede deur polisiebeamptes vind daagliks plaas omdat hulle óf nie opgelei is nie, óf nie wetgewing rakende arrestasie ken nie óf hulle eenvoudig nie daaraan steur om onskuldige mense soos kriminele te behandel nie. Dit moet end kry en daar moet ’n voorbeeld van sulke beamptes gemaak word.

(Köster en Strydom het reeds ’n klag ingedien en met hul regsverteenwoordiger gekonsulteer. Hulle gaan ook met adv. Gerrie Nel van AfriForum se Privaatvervolgingseenheid vergader oor die instel van ’n siviele eis teen die betrokke polisiebeamptes. AfriForum het in 2020 sukses in soortgelyke sake in Dwarskersbos en Ballito behaal waar mense tydens die inperking deurgeloop het weens wetstoepassers se magsmisbruik. Nel en sy span is tans besig om Naas le Roux van Centurion met ’n siviele eis te help nadat hy in Januarie in hegtenis geneem is toe hy vroegoggend melk vir sy pasgebore baba gaan koop het.)

Dr. Hinner Köster is uitvoerende direkteur en aandeelhouer van die Kaonne Investments Groep en onder meer ook president van die Konvokasie by die Universiteit van Pretoria.

Soortgelyke plasings