| | |

POLISIESTASIE BESTEMPEL KLAG BINNE 8 MINUTE AS VALS – AFRIFORUM HELP KLAER

AfriForum se privaatvervolgingseenheid ondersteun tans ’n klaer in ’n saak wie se klag binne agt minute deur die Brooklyn-polisiestasie as “vals” bestempel en deur die speurtak afgesluit is. Die eenheid het ook ’n diensklag teen ’n polisiekaptein in dié verband gelê. Die klaer se seun is in Januarie vanjaar onder verdagte omstandighede dood aangetref in ’n toilet in die Menlyn Mall-winkelsentrum.

Die oorledene het in November 2019 ’n lewenspolis uitgeneem. Die familie is ná sy dood in kennis gestel dat geen uitbetaling aan hulle gemaak sou word nie, aangesien ’n ander persoon as die begunstigde in die polis aangedui is. Dié persoon se besonderhede is egter in ’n ander handskrif en kleur ink aangebring as die ander inligting op die polisdokument. Dit blyk dus dat daar gepeuter is met die oorspronklike benoeming van die begunstigde.

Ondanks dié inligting is die klaer aanvanklik by die polisiestasie weggewys omdat die ondersoekbeampte wat sy seun se onnatuurlike afsterwe ondersoek nie beskikbaar was nie. Nadat AfriForum tussenbeide getree het, is die klaer wel in Oktober 2020 toegelaat om ’n saak aanhangig te maak. ’n Polisiekaptein het hom op dié geleentheid egter met arrestasie gedreig omdat hy kwansuis ’n vals klag gelê het – sonder om enige ondersoek te loods.

Volgens Natasha Venter, adviseur vir privaat vervolging by AfriForum se privaatvervolgingseenheid, is hierdie soort optrede deur polisielede een van die redes waarom mense so min vertroue in die land se strafregstelsel het. “Die SAPD is veronderstel om die eerste toevlug vir misdaadslagoffers te wees. Die teendeel is egter waar: Mense word in baie gevalle bloot by polisiestasies weggewys of – veel erger – soos kriminele behandel. Dit is kommerwekkend dat die privaatvervolgingseenheid toenemend by sake soos hierdie betrokke moet raak om die SAPD te dwing om hul werk te doen.”

Soortgelyke plasings