Polisievrou dood enkele dae ná AfriForum waarsku oor gevaar van skote afvuur

Enkele dae nadat AfriForum tydens ’n mediakonferensie oor vervolgingsake teen Julius Malema teen die roekelose afvuur van skote gewaarsku het, is ’n polisievrou in só ’n voorval oorlede.

’n Lid van die publiek het op 13 Julie 2019 by ’n polisielid se begrafnis in Soweto lukraak skote in die lug afgevuur. Een van die koeëls het ’n polisiekonstabel noodlottig in die bolyf getref. Die verdagte is onmiddellik gearresteer en sy vuurwapen afgeneem.

Die burgerregtewaghond het op 10 Julie 2019 tydens ’n mediakonferensie in Centurion aangedui dat hulle die hof met ’n mandamus-aansoek gaan nader om die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) te verplig om ’n besluit te neem oor die vervolging van Julius Malema, leier van die EFF, in drie hangende sake teen hom. Een van dié sake sluit in die afvuur van skote met ’n aanvalsgeweer. AfriForum het in Augustus 2018 reeds klagtes teen Malema by die Lyttelton-polisiestasie ingedien nadat hy tydens die EFF se vyfjaarfeesvieringe in Mdantsane in die Oos-Kaap verskeie skote met ’n aanvalsgeweer afgevuur het. ’n Video van dié voorval is wyd op sosiale media gedeel.

AfriForum se waarskuwing dat hierdie roekelose optrede ’n gevaarlike presedent kan skep indien die SAPD en NVG nie dringend teen hom optree nie, het egter op dowe ore geval. Die tendens om vuurwapens in die lug af te vuur, het posgevat – ongeag ander burgers se veiligheid.

“AfriForum het ook vroeër vanjaar die SAPD ingelig van verskeie gevalle waar mense vuurwapens onwettig afvuur, maar die SAPD versuim om die kwessie ernstig op te neem en oortreders te arresteer. Dit is jammer dat ’n vrou moes sterf vir die polisie om tot aksie oor te gaan. Die volgehoue versuim om Malema te vervolg, gaan mense bloot aanmoedig om hierdie gevaarlike tendens voort te sit,” sê Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid.

Soortgelyke plasings