|

Politieke inmenging, onvermoë redes vir verval van strafregstelsel

Die huidige strafregstelsel is ’n sinkende skip wat nie gered kan word nie en alternatiewe maniere van vervolging soos privaatvervolging gaan al hoe belangriker word in die stryd om geregtigheid.

Dit is die mening van regskenners wat vandag aan AfriForum se konferensie oor die verval van die strafregstelsel deelgeneem het.

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, het verskeie praktiese voorbeelde voorgehou en uitgewys hoe die nasionale vervolgingsgesag (NVG) en die SAPD in gebreke bly en dit self vermy om vervolgings in te stel.

Nel sê dit is duidelik dat die NVG onder politieke druk geswig het en steeds swig om individue soos Fikile Mbalula, minister van vervoer, en Julius Malema, leier van die EFF, te vervolg. Dít terwyl daar meer as genoeg getuienis teen hulle is onder meer die vakansieskandaal waarby Mbalula betrek is en die On Point-saak waarby Malema glo finansiële voordeel getrek het.

Adv. Gerrie Nel

“Daar is ’n algehele gebrek aan erns by die NVG om sake te wil afhandel en duidelik ook ’n gebrek aan kundigheid en kundige ondersoekers om sake te ondersoek.”

Nel het verwys na tientalle voorbeelde van korrespondensie oor maande tussen die privaatvervolgingseenheid en die NVG waar die antwoord min of meer altyd is dat “die ondersoek nog voortduur”.

“Daar is vertragings in die stelsel ingebou en die NVG antwoord ook graag dat hulle nie kennis van ’n saak dra nie of dat die polisiedossier weggeraak het. Daarbenewens wag die privaatvervolgingseenheid in die meeste sake maande lank voordat die NVG ’n irrasionale antwoord oor vordering in sake gee.”

“Die NVG en die polisie hoop dikwels dat klagtes net sal verdwyn. Die privaatvervolgingseenheid gaan egter aanhou om hul tot verantwoording te roep.

Adv. Gerrie Nel

Hy sê die NVG is ook nie gretig om ’n nolle prosequi-sertifikaat uit te reik sodat AfriForum privaat kan vervolg nie. Die organisasie moes reeds verskeie kere hof toe gaan om ’n mandamus-aansoek te bring om die NVG te dwing om te vervolg en net hul werk te doen. “Die voeteslepery en vertragings in sake by die NVG bevestig dat mense nie gelyk voor die reg is nie. Die NVG se onvermoë en weiering om individue met politieke bande te vervolg, is tekenend dat hulle na die pype van hul politieke meesters dans. Dit het tot gevolg dat mense vertroue in die regstelsel verloor en eenvoudig moed opgee in hul soeke na geregtigheid.

“Die NVG en die polisie hoop dikwels dat klagtes net sal verdwyn. Die privaatvervolgingseenheid gaan egter aanhou om hul tot verantwoording te roep. Die suksesse wat reeds behaal is in sake soos kindermishandeling en waar die NVG herbesin het om te vervolg, is ’n bewys dat ons die regte ding doen,” meen Nel.

Dr. Llewellyn Curlewis, strafregkenner, meen die misbruik van mag deur die regering die afgelope twee dekades, disrespek vir die wet en strafregstelsel het daartoe gelei dat die grootste gedeelte van die bevolking benadeel en arm is. “Ons sit op ’n tydbom aangesien armoede en ’n gebrek aan vaardighede die hoofoorsake van misdaad is.”

In my opinie het die Zondo-kommissie nog net bolangs geraak aan onwettige gedrag in die land en na baie maande wat belastingbetalers se geld gemors is, is die tempo waarteen met vervolging begin is nie eens die moeite werd om te noem nie.

Dr. Llewellyn Curlewis

Curlewis het ook na die korrupte regering verwys en gesê die verval van die regstelsel kan nie beveg word as daar nie ’n sterk verbintenis tot die oppergesag van die reg is nie. “As burgerlike samelewing moet ons ferm standpunt inneem en pogings saam met ander rolspelers aanwend in die stryd teen misdadigers. ’n Kombinasie van korrupsie en ’n swak regstelsel het nie net negatiewe ekonomiese implikasies nie, maar is ook dodelik vir die politieke gesondheid van ’n jong demokrasie.

Dr. Llewellyn Curlewis, strafregkenner

“In my opinie het die Zondo-kommissie nog net bolangs geraak aan onwettige gedrag in die land en na baie maande wat belastingbetalers se geld gemors is, is die tempo waarteen met vervolging begin is nie eens die moeite werd om te noem nie. Die publiek se persepsie is dat die regstelsel nie eens probeer om boosheid in die land uit te wis nie. Dringende ingryping is nodig om mense se frustrasies aan te spreek.”

Curlewis meen strafverhore in hofsale het ’n klug geword en weinig word gedoen om by waarheid en geregtigheid uit te kom. Dit het meer ’n politieke spel geword en dit gee die hele regstelsel ’n swak reputasie.

Volgens Curlewis  het die standaard van die regbank gedaal en dit kan toegeskryf word aan die kandidate wat aangestel word. Meriete, vaardighede en ervaring word steeds nie na 27 jaar oorweeg nie. Om die toedrag van sake te vererger is daar ook ernstige bedenkinge oor die toelatingsvereistes om LLB te studeer en die professionele vereiste wat gestel word aan kandidate om te praktiseer.

Prof. Koos Malan, dosent in publiekreg aan die Universiteit van Pretoria (UP), het na talle tekortkominge en probleme in die polisie soos personeeltekorte, swak opleiding, korrupsie, min hulpbronne en gebrek aan misdaadintelligensie verwys wat tot die verval van die strafregstelsel bydra. “Die polisie kan misdaad nie doeltreffend bekamp nie en dit het gelei tot verskillende mafia-bedrywighede in die konstruksie-, myn- en vervoersektor. Die polisie is oorweldig deur die werkwyse en optrede van kriminele.”

Prof. Koos Malan

Malan meen die regering se onvermoë om verantwoordelikheid vir veiligheid te neem, het tot gevolg gehad dat privaat veiligheidsmaatskappye so gegroei  het dat Suid-Afrika die vierde grootste privaatveiligheidindustrie in die wêreld het.

Hy meen voorts die land word beheer deur die ANC-oligargie wat net tot voordeel van enkele ryk families is. “Die situasie gaan vererger en ons moet aanvaar dat ons nie ’n doeltreffende staat het nie. Die grondwet van 1996 het in onbruik verval en die enigste oplossing is dat gemeenskappe beheer oor hulself en hul veiligheid moet neem. Ons sien reeds in verskeie gemeenskappe hoe landsburgers beheer geneem het om misdaad te bekamp in plaas van om alles aan die genade van die staat oor te laat.”

Soortgelyke plasings