|

Politieke korrektheid sal nie aan AfriForum voorskryf nie

Altesame 15 mosies is die afgelope naweek by AfriForum se nasionale kongres in Warmbad aanvaar.

Die belangrikste hiervan is dat die burgerregte-organisasie nie sal stilsit en toekyk hoe grondgrype in die land plaasvind nie. ’n Mosie is aanvaar dat die organisasie gemeenskappe en sy lede sal mobiliseer wanneer radikale groepe soos die EFF poog om grond te gryp en onwettig te beset. Die organisasie sal deur regsaksies die regte van grondeienaars beskerm en deur buurtwagte die gebiedsveiligheid van sy lede verseker.

 

Die ander mosies wat aanvaar is, sluit in:

  1. ’n Verklaring van wantroue in Riah Phiyega, polisiekommissaris, onder wie se leierskap misdaad drasties toegeneem het. Hoë vlakke van geweldsmisdaad kom voor en toon ’n stygende tendens. Die kongres meen die ANC-regering se politieke agenda en die leierskapskrisis binne die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) is grootliks hiervoor verantwoordelik.
  2. Die kongres besluit dat die minimumvereiste ten opsigte van lede vir die stigting van nuwe takke voortaan 100 nuwe taklede moet wees.
  3. Die kongres besluit dat AfriForum die stand van gemeenskapsgesondheidsorg sal monitor en ondersoek sal instel na haalbare selfdoen-gesondheidsinisiatiewe in takverband.
  4. Die kongres besluit dat AfriForum se takke tydens die volgende herorganisasie jeugkomitees op takvlak sal instel, waar moontlik.
  5. Die kongres herbevestig dat die mees volhoubare manier om plaaslike gemeenskappe veilig te hou daarin gesetel is om hierdie gemeenskappe by selfdoen-aksies soos gemeenskapsveiligheidsnetwerke te betrek. Daar is besluit dat die stigting en versterking van sulke gemeenskapsveiligheidsnetwerke een van AfriForum se kernprioriteite in die jare wat voorlê moet wees en dat AfriForum se takke ’n praktiese veiligheidsfokus sal ontwikkel. Dit is nodig omdat die polisie in geheel nie vertrou kan word om misdaad in Suid-Afrika na behore te beveg nie.
  6. Daar is besluit dat AfriForum die nodige infrastruktuur sal skep om plaaslike radionetwerke op ’n streeks- en nasionale vlak te verbind.
  7. Daar is besluit dat AfriForum ondersoek sal instel na maniere om ’n brandbestrydingsvermoë in takke te vestig.
  8. Daar is versoek dat AfriForum se direksie dit oorweeg dat bykomende direksielede vanuit takgeledere verkies word.
  9. Daar word kennis geneem van die 2016 plaaslike verkiesing en bevestig dat AfriForum hom met oplossings buite die party-politiek bemoei en dat die organisasie se strukture nie by politieke partye se verkiesingsveldtogte betrek sal word nie.
  10. Daar is kennis geneem van die verswakking in staatskapasiteit wat onder meer tot verval in munisipale en ander dienste lei. Hoewel AfriForum hierdie situasie as ’n skending van sy lede se regte beskou, is die kongres van mening dat staatsafhanklikheid plek moet maak vir gemeenskapselfstandigheid. Daarom herbevestig die kongres dat AfriForum se takke sal voortgaan om basiese dienste te herstel in die gevalle waar sy gemeenskappe daardeur geraak word.
  11. Daar is besluit dat AfriForum se takke jaarliks ’n week, wat op die uitvoer van ’n verskeidenheid selfdoenveldtogte toegespits sal wees, sal aanpak waartydens gemeenskappe se veiligheid, munisipale dienste, omgewing, gesondheid en die jeug die kernfokus sal wees.
  12. Die kongres herbevestig dat AfriForum hom nie sal laat voorskryf deur idees wat op ’n gegewe stadium polities gewild is nie, maar dat hy wel, in die uitvoer van sy veldtogte altyd daarop toegespits sal wees dat sy optrede konstruktief moet wees en tot die bevordering van die organisasie se visie en missie sal bydra. Die kongres is van mening dat politieke korrektheid en moreel regverdigbare optrede nie noodwendig dieselfde is nie. Gevolglik is besluit dat politieke korrektheid nie aan die organisasie sal voorskryf nie, maar dat die organisasie se optrede altyd moreel regverdigbaar moet wees.
  13. Die kongres herbevestig dat AfriForum hom in besonder daarop toespits om ’n toekoms vir Afrikaners aan die suidpunt van Afrika te verseker. Dit impliseer nie dat AfriForum in vyandskap met enige ander gemeenskap funksioneer nie. Inteendeel, AfriForum se strukture sal daarna streef om wedersydse erkenning en respek tussen gemeenskappe te bevorder. Die kongres aanvaar ook dat dit nie in Afrikaners se belang is om Afrikanerskap te bevorder op ’n wyse wat ander gemeenskappe sal benadeel nie.
  14. Die kongres het besluit dat takbestuursportefeuljes omskep moet word in takkomitees.

Soortgelyke plasings