|

Potchefstroom-tak behandel termietplaag by Totiushuismuseum

Die AfriForum-tak in Potchefstroom het onlangs daarvan bewus geword dat daar ’n geweldige termietplaag by die Totiushuismuseum in Potchefstroom is wat ernstige skade tot gevolg kan hê. Omdat die ou gebou baie houtafwerking het, het die tak geld bewillig om pesbeheerders te kry om die termiete uit te roei.

Behandeling vir die reuse-termietnes is buite rondom die huis, asook onder en binne die huis gedoen. Termietkolonies is baie aktief in die area en dit is ’n probleem wat sporadies opduik en dan behandel moet word om skade aan die gebou en inhoud te verhoed.

“Ek is net dankbaar vir al die AfriForum-lede wat so getrou ledegeld betaal. Dit is hoofsaaklik hierdie bydraes wat AfriForum vanjaar in die gunstige posisie geplaas het om fondse vir hierdie projek te kon voorsien. Na verneem word kom die termietplaag aansienlik wyer voor as die erf waarop die Totiushuismuseum staan. Gevolglik behoort ’n groter ondersoek gedoen te word in ’n poging om die groter probleem van termiete doeltreffend te beheer. Met die goeie werk wat die betrokke onderneming gedoen het en hul raad vir ’n langtermynbeheerplan, word daar vertrou dat die plaag in en om die Totiushuis goed onder beheer gehou kan word,” sê Piet Theron, die waarnemende voorsitter van die AfriForum-tak in Potchefstroom.

“Ek is so bly dat ons tak by hierdie goeie saak betrokke geraak het. Totius het sulke diep spore getrap, veral in Potchefstroom, dat ons nie kan toelaat dat hierdie museum tot niet gaan nie,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Raak by Potchefstroom se AfriForum-tak betrokke en help om jou omgewing beter te maak. Kontak vir Leanie van Ronge by 066 423 9239 om aan te sluit.

Soortgelyke plasings