|

Potchefstroom-tak neem vanjaar leiding by herdenking van Konsentrasiekampdag

Die AfriForum-tak in Potchefstroom het vanjaar leiding geneem om die program te reёl vir die herdenking van Konsentrasiekampdag op 16 Junie by die konsentrasiekampkerkhof in Bremnerstraat. Ongeveer 40 mense, waaronder baie kinders, het die bibberende koue getrotseer om hulde te bring aan die slagoffers van die konsentrasiekamp.

Die kultuurorganisasies in Potchefstroom is uitgenooi om aan die verrigtinge deel te neem. AfriForum het die opening met skriflesing en gebed waargeneem, waarna die Totius Voortrekkerkommando en hul Mooirivier Staatmakers ’n vlagpresentering gedoen het. Die verhaal van Japie Greyling is deur AfriForum-lede vertel en gedramatiseer wat groot byval by die gehoor gevind het. Kranse en blomme is by die gedenkteken gelê deur die Totius Voortrekkerkommando en hul Mooirivier Staatmakers, die AfriForum-tak van Potchefstroom en die AfriForum Jeug se Puk-tak. Die Potchefstroom-tak se jeugbeampte en die kultuur-en erfenisbeampte het koffie en beskuit bedien om die verrigtinge af te sluit.

“Dit was so lekker om te sien hoe baie kinders hierdie herdenking bygewoon het. Die kinders is honger om te hoor waar hulle vandaan kom. Ek doen ’n beroep op ouers om die geskiedenis met hulle kinders te deel. Ek is trots op die Potchefstroom-tak wat onthou het,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Raak by Potchefstroom se AfriForum-tak betrokke en help om jou omgewing beter te maak. Kontak vir Pretorius by 081 392 2071 om aan te sluit.

Soortgelyke plasings