|

Potchefstroom-tak plant eikebome in historiese laning

Die AfriForum-tak in Potchefstroom het op 5 Maart hul hande vuil gemaak en agt nuwe eikebome in die historiese eikeboomlaning geplant, nadat sommige van die ouer bome gevrek het.

Die jong bome is deur inwoners van die Damarea geskenk en is in Calderbanklaan aangeplant.

Altesaam 16 mense van onder meer AfriForum se Potchefstroom-tak, AfriForum Jeug se Puk-tak, die Potchefstroom Gimnasium Landsdiensklub, die Eikelaanbelangegroep en inwoners van die Damarea het gehelp om die bome te plant.

Hierdie bome is deel van die Eikelaanbelangegroep se poging om die historiese laning te red. Die laning is in 1910 aangeplant en in 1977 tot ’n nasionale gedenkwaardigheid verklaar. Die eikeboomlaning is tans ’n verklaarde provinsiale erfenisterrein.

“Dit is baie belangrik dat die tak ook by kultuur en erfenis betrokke is. Die eikeboomlaning is al só deel van Potchefstroom – ons kan dit nie laat verlore gaan nie,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier. Raak vandag nog by Potchefstroom se AfriForum-tak betrokke en help om jou omgewing beter te maak. Kontak vir Leanie van Ronge by 066 423 9239 om aan te sluit.

Soortgelyke plasings