|

AfriForum se Potchefstroom-tak roei indringerplante uit

Die AfriForum-tak in Potchefstroom het verlede week saam met GreenThorn Environmental Solution, ’n maatskappy met van die beste kundiges wat die beheer van indringerplante betref, begin om riete te sny en indringerbome af te saag in die vloedvlakte van die Mooirivier. Die indringers het dikwels tydens swaar reënval oorstromings veroorsaak omdat die watervloei belemmer is.

Daar was aansienlik meer bome as wat aanvanklik bepaal was aangesien die groot hoeveelheid riete veroorsaak het dat die terrein nie behoorlik toeganklik was om ’n opname van die aantal bome te kon doen nie.

Die verwydering van die materiaal is egter ’n groot uitdaging. Alhoewel die parkeafdeling en afvalbestuur van die munisipaliteit gehelp het met die verwydering van die afgesaagde materiaal, het hulle ongelukkig nie by hulle belofte gehou om die materiaal deurentyd te verwyder nie. Dit laat die aangrensende sakeonderneming met ’n slegte uitsig vol afgekapte plantmateriaal.

Al die bome wat afgesaag is, is met onkruiddoder behandel. Volgens GreenThorn is dit baie effektief en behoort daar dus baie min hergroei voor te kom. Die riete wat afgesny is, is nie behandel nie, maar daar word beoog om die riete met onkruiddoder te spuit sodra dit 500 mm hoog uitgeloop het.

Piet Theron, die waarnemende voorsitter van die AfriForum-tak in Potchefstroom, wil graag vir GreenThorn bedank vir die werk sowel as die opvolgwerk wat hulle gaan doen. Hy bedank ook die MooiRivier Mall vir hul finansiële bydrae tot die projek, asook KFC wat die ongerief van die takke en staalbakke wat hulle parkeerterrein ontsier het, verduur het. Die tak hoop dat die eindresultaat, wat die brandgevaar en kans op oorstromings baie verminder, sal opmaak vir die ongerief. “Ons wil ook vir raadslid Jeanne Adriaanse bedank wat die projek ondersteun en vir druk wat uitgeoefen is sodat die munisipaliteit ’n omgewingsbewaringkomitee op die been kon bring. Die AfriForum-tak in Potchefstroom onderneem om behulpsaam te wees met die opstel en uitvoering van so ’n komitee se beplanning,” sluit Theron af.

“Ek het groot waardering vir Piet, Dirk Venter en Ian Mackenzie van die plaaslike tak vir hulle baie harde, fisiese werk met hierdie projek. Dit is ongelooflik om die groot verskil te sien nadat so baie indringerplantmateriaal verwyder is. Dis egter teleurstellend dat die plaaslike munisipaliteit, wie se werk dit eintlik is, nie by hul woord gehou het en hulle deel na behore gedoen het nie,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Raak vandag nog by AfriForum se Potchefstroom-tak betrokke en help om jou omgewing te verbeter. Kontak vir Leanie van Ronge by 066 423 9239 om aan te sluit.

Soortgelyke plasings