|

Pres. Ramaphosa: Kom kyk plaasmoorde is geen mite nie!

Geagte pres. Ramaphosa,

Dit is in September 2018, by ’n byeenkoms van die Verenigde Nasies (VN) in New York, waar u in ’n onderhoud met Bloomberg gesê het dat daar “geen moord op boere” in Suid-Afrika plaasvind nie.

Later het u dit probeer regverdig deur te sê dat baie mense u nie mooi verstaan het nie. U het klaarblyklik probeer verduidelik dat wit en swart boere vermoor word en nie net wittes nie.

Dis egter amper twee jaar ná u uitlatings.

Daar was vanjaar reeds 234 plaasaanvalle en 30 plaasmoorde, maar steeds erken u nie dat dit ’n werklikheid vir álle boere is nie.

U het nog geen familie of gemeenskap besoek wat deur hierdie wrede misdade geruk is nie.

Ek probeer dit op ’n manier insien…

Plaasmoorde is vir u net ’n verskynsel op sosiale media en in die nuus. U het nog nooit die impak van ’n plaasmoord ervaar nie. U dink dis nie so erg nie, want plaasmoorde is eintlik mos ’n mite vir u, of hoe?

Die HAT definieer ’n mite onder meer as ’n “storie sonder gronde”, ’n “fabel”.

U as president van die land, is vir my ook ’n mite.

Ek sien u slegs wanneer ek my sosialemediarekeninge besoek, nuus kyk of moet wag wanneer u die land wil toespreek. U het nog nooit my hand geskud of die plekke besoek waar ons gemeenskappe in tye van hartseer of nood bystaan nie.

Ek wil graag hê dat dit moet verander. Daarom wil ek u uitnooi om my aan huis te besoek. Ek wil u saamneem op die spoor van hartseer en vernietiging wat plaasaanvalle en –moorde die afgelope maande gelaat het.

Ons kan by die Brand-gesin se huis begin. Daar waar Oom Dan (83), Tannie Breggie (79) en hul dogter, Elzabie (54) se middagete onaangeraak op die tafel gestaan het voordat hulle ontvoer en brutaal vermoor is. Hoe sal ons ooit weet waardeur hulle alles is?

Ons kan langs die pad stilhou en ook met hul werkers, gesinslede en bure gesels sodat u ’n idee kan kry hoe gebroke hierdie gemeenskap nou is.

Ek kan saam met u die land vol reis, van Limpopo, Mpumalanga, Noordwes, KwaZulu-Natal tot die Wes-Kaap.

Elke provinsie as dit moet. Net sodat u uiteindelik kan besef dat plaasmoorde allesbehalwe ’n mite is.

Groete Lize-mari.

Soortgelyke plasings