|

Pretorianers haal danksy AfriForum eers asem oor kragtariewe

Die Tshwane-metro sal nie Woensdag voortgaan met die implimentering van die onwettige verhoogde kragtarief vir die 2019/2020-termyn nie.

Dit kom ná volgehoue druk en ’n hofsaak wat die burgerregtewaghond AfriForum teen die munisipaliteit aanhangig gemaak het om die proses te stop.

Die afskaffing van ’n verhoogde tarief is egter nie finaal nie en die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) moet nog ’n tarief vir die 2019/2020-termyn goedkeur. Dié besluit sal geneem word ná die sewe werksdae wat die Tshwane-metro het om aanvullende inligting aan Nersa te verskaf oor die tarief wat dit in werking wil stel.

Volgens Morné Mostert, AfriForum se hoof van plaaslikeregeringsake, verwelkom AfriForum dié aankondiging. “Ons is bly dat die verhoogde tarief nie langer gehef sal word nie. Die proses is van die begin af verkeerd gevolg. Ons verwelkom die Tshwane-metro se besluit om die vorige termyn se tarief weer toe te pas en eers die nodige goedkeuring van Nersa te kry voordat enige verhoging geïmplementeer word. Kragverbruikers sal tot tyd en wyl nou die vorige termyn se tarief – dus sonder die verhoging – betaal.”

Mostert beklemtoon dat nog net voorafbetalende kragverbruikers deur die verhoogde tarief geraak is. Die Tshwane-metro het egter onderneem om dié verbruikers te vergoed deur die geld terug te betaal wat verbruikers ekstra vir eenhede moes betaal.

Mostert voeg by dat die metro nou op ’n skoon bladsy kan begin om ’n verhoogde tarief – wat ál Pretoria se inwoners in ag neem – in werking te stel. “Dit is jammer dat ons deur ’n hofproses moes gaan om die implementering van die tarief te staak. Ons hoop dat die metro in die toekoms beter met sy inwoners sal kommunikeer om soortgelyke optrede te vermy.”

AfriForum sal voortgaan om die proses fyn dop te hou en ook, waar nodig, aan die proses deelneem. Die organisasie sal ook in die toekoms nou saam met die metro werk om te verseker dat ’n billike tarief vir sy inwoners geïmplementeer word.

Nersa het Tshwane intussen oor die vingers getik omdat die raad nie ’n dokument wat die koste van kragverskaffing uitstippel saam met sy aanvanklike aansoek om kragtariewe te verhoog ingedien het nie.

Nersa meen dié metro wou beduidende veranderinge aan kragtariewe aanbring sonder om die nodige inligting aan hulle (Nersa) te verskaf.

Ook die Johannesburg-metro het verlede week ’n R200-heffing op voorafbetaalde krag vir huishoudings afgeskaf nadat dit geblyk het die stad het dieselfde plan as Tshwane gehad. Die Johannesburg-metro wou voorgee dat afskaffing is gedoen ná konsultasie met belanghebbendes en uit simpatie met verbruikers. Die vraag is egter hoekom die heffing dan enigsins tydens die raadvergadering goedgekeur is.

Dit blyk eerder dat die heffing vir Johannesburgers afgeskaf is nadat dié verhoging ook nie aan Nersa deurgegee is nie.

Nersa het aangedui dat die Kaapstad-metro nou ook in sy visier is wat kragtariewe betref. Net soos Johannesburg en Tshwane wou Kaapstad bykomende heffings op elektrisiteit hê wat verbruikers swaar sal tref.

Die metro’s het nie die heffings aan Nersa vir goedkeuring deurgegee nie, omdat hulle aanvoer dat dit gehef sou kon word ingevolge die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur (MFMA). Die wet magtig munisipaliteite om munisipale belasting en bybelasting op basiese tariewe te hef om ander bedrywighede te finansier.

Nersa-amptenare meen egter dit lyk eerder of metro’s die bykomende heffings by die agterdeur wou laat inglip en die Nersa-proses wou systap. Alle oë is nou op die reguleerder om hom uit te spreek oor die bybelasting wat metro’s op elektrisiteit wou hef.

Nersa het vanjaar ’n kragverhoging van 13,8% vir munisipaliteite as riglyn neergelê.

Soortgelyke plasings