|

PRIVAAT VERVOLGING VAN BESKULDIGDE IN VERKRAGTINGSAAK IN MAART HERVAT

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, en sy span het vandag namens Celeste Gouws, slagoffer en privaat vervolger, in die Somerset-Oos Streekshof in ’n verkragtingsaak verskyn. Die saak is tot 23 tot 26 Maart 2021 uitgestel vir verhoor, omdat die beskuldigde aangedui het dat hy die dienste van adv. Dali Mpofu of adv. Tembeka Ngcukaitobi wil bekom. Die verdagte staan tereg op een klag van verkragting en ’n klag van huisbraak met die doel om te verkrag.

Dit volg nadat die direkteur van openbare vervolgings in die Oos-Kaap geweier het om vervolging teen die verdagte in te stel. Die slagoffer is na bewering in September 2017 in haar huis verkrag het. Adv. Nel het die aansoek om uitstel teengestaan, omdat vandag se datum vir verhoor reeds vasgemaak is. Hy het aangevoer dat geen beskuldigde ’n onbelemmerde reg het tot ’n spesifieke regsverteenwoordiger nie en dat dit tyd is dat howe die regte van slagoffers en die samelewing in sake van geslagsgebaseerde geweld ophef om ten minste gelyk te wees met dié van die beskuldigde. Adv. Nel het verder aangevoer dat die kwesbare lede van die samelewing op howe moet kan staatmaak om hul regte te beskerm.

Die saak is na AfriForum se privaatvervolgingseenheid verwys nadat ’n prokureur op die dorp en ’n vriendin van Gouws geen antwoord op haar navrae gekry het oor waarom geen strafregtelike stappe teen die beskuldigde ingestel word nie.

“Ten spyte van ’n prima facie-saak en die feit dat die slagoffer onmiddellik ’n saak teen hom gemaak het, is die verdagte nooit eens vir die beweerde misdaad gearresteer nie. Die enigste afleiding wat ons kan maak ten opsigte van die DOV se weiering om te vervolg, is dat die beskuldigde weens sekere konneksies voorkeurbehandeling kry. AfriForum se privaatvervolgingseenheid is juis gestig om toe te sien dat almal gelyk is voor die reg en vervolg word vir wandade – ongeag hul status in die samelewing of dié van hul families. Dit is egter skreiend dat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) nie hul onderneming – om sake van geslagsgebaseerde geweld op ’n ernstige grondslag te hanteer – met meer erns bejeën nie, en dat hierdie slagoffer moes ly onder die sekondêre trauma van die wete dat die NVG weier om die verdagte te vervolg,” sê Andrew Leask, hoofondersoeker by AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

Soortgelyke plasings