|

Privaatvervolgingseenheid bekla NVG se misbruik van proses nadat nóg ’n hof in AfriForum se guns bevind

Landdros Bertus van Zyl het vandag in die Upington-landdroshof aan AfriForum se privaatvervolgingseenheid gelyk gegee in die formele geregtelike doodsondersoek (GDO) na Maverick Links. Dit volg nadat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) weer eens sy plig versuim het om vervolging in te stel wat gelei het tot hierdie GDO.

In hierdie geval was die slagoffer ’n 14-jarige seun. Links is na bewering reeds in Julie 2017 deur ’n tienjarige maatjie met die maatjie se pa se dienspistool doodgeskiet. Die doel van ’n GDO is onder meer om te bepaal of iemand aanspreeklik gehou kan word vir die slagoffer se dood. In hierdie geval het landdros Van Zyl, op die betoë wat die privaatvervolgingseenheid gemaak het, bevind dat ’n persoon wel aanspreeklik gehou kan word en dat sy dade ’n misdryf uitmaak. Dit nadat die Vervolgingsgesag geweier het om die minderjarige en of sy pa te vervolg.

Landdros Van Zyl se bevinding volg kort op die hakke van landdros John Maloba se bevinding verlede week in die Deedat-GDO in die Johannesburgse landdroshof waarin hy (Maloba) opgemerk het dat die Staat die hof vir GDO’s gebruik as ’n vangnet of as repetisie vir ’n verhoor en ook om aan slagoffers te illustreer watter slaggate ’n verhoor kan inhou.

Volgens Andrew Leask, hoofondersoeker by AfriForum se privaatvervolgingseenheid, is die NVG se konstante afstanddoening van hul grondwetlike plig om te vervolg deur eerder GDO’s in te stel, ’n misbruik van die proses en ’n miskenning van die slagoffers van misdaad, aan wie hulle pligsgebonde is, se regte. “Ons eenheid sien al hoe meer dat die NVG eerder ’n GDO aanvra as om te vervolg ten einde hul onbekwaamheid om moeilike besluite te neem te omseil en weg te kruip agter die bevinding van ’n landdros. In hierdie tragiese geval moes die NVG onmiddellik die prosedures soos voorgeskryf deur die Wet op Kindergeregtigheid 75 van 2008 gevolg het.” Leask het ook beklemtoon dat die privaatvervolgingseenheid namens hul kliënte teen beide die Staat en die persoon van belang veg vir geregtigheid in hierdie GDO, aangesien dit blyk dat beide hierdie partye vervolging wil verhoed. “Dit is ironies dat die ‘prokureurs vir die mense’ weer eens die samelewing in die steek gelaat het eerder as om daadwerklik op te tree in belang van die slagoffer se familie. Verder laat die ondersoek in die saak veel te wense oor en dit blyk dat die polisie traag was om ondersoek in te stel omdat die pa van die persoon van belang self ’n polisiebeampte is. Dit is eers nadat ons in 2019 by hierdie saak betrokke geraak het dat die polisie die relevante verklarings en getuienis ingewin het.”

Soortgelyke plasings