|

Privaatvervolgingseenheid dien in 2020 meer as 20 diensklagtes teen polisie in

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het sedert April 2020 meer as 20 formele diensklagtes teen die polisie ingedien by sekere provinsiale polisiekommissarisse, asook die nasionale polisiekommissaris. Hierdie klagtes spruit uit die onvermoë of onwilligheid van polisielede om hul pligte uit te voer.

Die jongste klagte is op 24 Augustus by die kommissaris ingedien in die saak van Odette Kotze (57). Kotze is tydens vlak 5 van die inperking in ’n winkelsentrum in Port Elizabeth deur winkeleienaars aangerand en met ’n tou vasgebind nadat hulle haar beskuldig het van die diefstal van ’n pakkie vuurhoutjies.

Die winkeleienaars het haar langer as twee ure teen haar wil aangehou. Daarna het die polisie haar in hegtenis geneem en aangehou – nie op ’n klagte van diefstal nie, maar aanranding. Kotze het op hierdie aanklagte in die hof verskyn, waarna sy op R500 borgtog vrygelaat is. Die landdros het haar aanbeveel om ’n saak teen die winkeleienaars aanhangig te maak nadat hy haar beserings waargeneem het. Kotze het daarna ’n saak van aanranding met die doel om ernstig te beseer, menseroof en saakbeskadiging teen die winkeleienaars geopen.

In hierdie geval het die polisie nie net versuim om die kringtelevisiebeeldmateriaal van die voorval te bekom nie, maar het ook geweier om terugvoer aan Kotze as die klaagster in die saak te gee.

Die privaatvervolgingseenheid het verder in April 2020 ’n diensklagte teen lede van die Wierdabrug-polisiestasie ingedien nadat Sanet Erasmus, self ’n werknemer van die polisie, deur ’n vroulike kollega aangerand is. Die beweerde aanranding het voor ’n senior polisieman plaasgevind, maar hy het geen stappe gedoen om dit te stop nie. Erasmus het ’n strafregtelike klagte teen hierdie persone ingedien en hoewel die ondersoek volgens die polisie afgehandel is, het hulle nog geen arrestasies gemaak nie. AfriForum het in hierdie geval aansoek gedoen vir ’n nolle prosequi-sertifikaat en die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) oorweeg tans die aansoek.

Ander onlangse klagtes teen die polisie sluit in die beweerde aanranding van Leonie Kambouris en die beweerde mishandeling van Baba N.

Volgens Andrew Leask, hoofondersoeker by AfriForum se privaatvervolgingseenheid, blyk dit uit dié eenheid se ervaring dat polisiestasies al hoe meer die verskoning aanbied dat voorvalle nie in hulle jurisdiksie val nie en dan klaers wegwys.

“Die afleiding kan dus gemaak word dat sekere polisiebeamptes bloot nie lus is om hulle werk te doen en hul gemeenskappe te dien nie. Dit is kommerwekkend dat ons soveel klagtes teen die polisie moet eskaleer tot in die kantoor van die nasionale kommissaris as gevolg van sekere polisielede se onverskillige houding en werksetiek. Dit beklemtoon weer eens waarom dit so belangrik is dat daar instellings soos AfriForum is wat die rol van burgerregtewaghond vervul.”

Soortgelyke plasings