|

Privaatvervolgingseenheid gaan NVG dwing om nolle prosequi-sertifikaat uit te reik rakende valse aantygings van rassisme

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het vandeesweek ’n mandamusaansoek op die Direkteur van Openbare Vervolging (DOV) in Pretoria, asook drie ander respondente, beteken ten einde die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) te dwing om ’n nolle prosequi-sertifikaat uit te reik in die saak van André Fourie. Hierdie sertifikaat sal die privaatvervolgingseenheid in staat stel om Fourie te verteenwoordig in die privaat vervolging van Sello Mojela op klagtes van crimen injuria. Die voorval waaruit Fourie se klagtes spruit, het reeds in 2018 plaasgevind.

Tydens die voorval het Mojela by die werksplek ná ’n meningsverskil met Fourie valslik aangevoer dat Fourie hom (Mojela) ’n “bobbejaan” genoem het – hy het dit ook skriftelik aangedui in die werk se griefskrifprosedure. Daarna het Mojela egter sy weergawe verander toe hy op grond van die voorval ’n klag by die polisie gaan lê het en in sy eedsverklaring valslik aangevoer het dat Fourie hom die k-woord genoem het (die NVG het geweier om Fourie op hierdie klagtes te vervolg). Fourie het in reaksie hierop ’n kriminele klagte teen Mojela geopen.

Die privaatvervolgingseenheid het Fourie reeds op 25 Oktober 2019 gehelp met die aansoek om ’n nolle prosequi-sertifikaat, nadat die NVG aangedui het dat hulle nié vir Mojela gaan vervolg nie. Ná vele korrespondensie het die DOV die privaatvervolgingseenheid in kennis gestel dat hy weier om ’n nolle prosequi-sertifikaat uit te reik omdat dit, volgens hom, nie in belang van geregtigheid sou wees om dit te doen nie.

Volgens Natasha Venter, adviseur by AfriForum se privaatvervolgingseenheid, maak die DOV se irrasionele en ongegronde weiering om die nolle prosequi-sertifikaat vir meer as twee jaar uit te reik, privaat vervolging in hierdie saak onmoontlik. “Wetgewing verleen nie aan die DOV die diskresie om te besluit om nié ’n nolle prosequi-sertifikaat uit te reik nie – hy is verplig om dit te doen indien die NVG nie self vervolg nie. Die voortdurende versuim om Fourie in staat te stel om Mojela privaat te vervolg is tot nadeel van Fourie se fundamentele regte, asook geregtigheid, daarom het die privaatvervolgingseenheid nou daadwerklike stappe gedoen om die DOV te dwing om dié sertifikaat uit te reik.”

Soortgelyke plasings