|

PRIVAATVERVOLGINGSEENHEID GRYP IN BY SAAK VAN POLISIEMAGSMISBRUIK BY WIERDABRUG-POLISIESTASIE

AfriForum se privaatvervolgingseenheid staan tans vir Anja Pentz by, wat na bewering op 22 April 2021 deur beamptes van die Wierdabrug-polisiestasie aangerand en ure lank opgesluit is nadat sy ’n kapingspoging by dié polisiestasie wou aanmeld. Die polisiebeamptes het haar van openbare dronkenskap aangekla en toegesluit toe sy probeer het om foto’s van hulle te neem waar hulle versuim om haar met die aanmelding van ’n misdaad te help. Die eenheid het reeds vertoë aan die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) gerig, wat reeds aangedui het dat die saak teen Pentz nie op die rol geplaas sal word nie.

’n Onbekende voertuig het Pentz op die betrokke aand van die hoofweg probeer druk. Sy was alleen in die motor en daarvan oortuig dat die insittendes van die ander motor haar wou kaap. Sy het na die Wierdabrug-polisiestasie gery. Hoewel die onbekende motor het haar tot by die polisiestasie gevolg het, het dit toe verdwyn.

Ses stasiebeamptes het in stoele teen die muur gesit en geen poging aangewend om Pentz te help nie. Hulle het ook haar versoeke om hulp geïgnoreer. Nadat sy egter haar selfoon uitgehaal het om foto’s hiervan te neem, het een van die polisiebeamptes opgestaan en haar in kru taal gevra waarmee sy besig was. Hy het Pentz agter die nek gegryp en ingelig dat sy vir openbare dronkenskap gearresteer word. Pentz is tot 03:45 die volgende oggend in die aanhoudingselle toegesluit. Sy het daarna ’n kennisgewing ontvang dat sy op 13 Mei op dié aanklag in die hof moet verskyn, ten spyte daarvan die feit dat sy op die betrokke dag geen alkohol ingeneem het nie en die polisiebeamptes geweier het om haar alkoholvlak te toets.

Volgens adv. Phyllis Vorster, aanklaer by die privaatvervolgingseenheid, sal die eenheid ook vir Pentz ondersteun met die klagtes wat sy reeds teen die polisiebeamptes gelê het. Dit sluit in aanranding, diefstal (geld uit haar beursie) en kwaadwillige saakbeskadiging (haar selfoon). “Ons is met afgryse vervul oor die optrede en magsmisbruik van dié polisiebeamptes, wat skynbaar ’n klag teen ’n onskuldige vrou gefabriseer het en haar sonder rede vir ure lank opgesluit en met minagting behandel het. Dít terwyl sy haar tot die polisie vir beskerming gewend het,” sê Vorster.

Soortgelyke plasings