|

Privaatvervolgingseenheid gryp in: Polisiegeneraal uiteindelik aangekla ná sy polisievrou “verneder”

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het uiteindelik besluit om die polisiegeneraal, wat na bewering die 53-jarige kapt. Riana Stander (voorheen Viviers) verneder het, op klagtes van crimen injuria te vervolg. Die beweerde misdryf het in November 2016 plaasgevind toe die beskuldigde die polisieakademie op Oudtshoorn besoek het en, voor sowat 450 rekrute, op- en aanmerkings oor Stander en ander opleidingsbeamptes se voorkoms gemaak het.

Die beskuldigde het na bewering beveel dat Stander en ander beamptes op ’n verhoog moes staan en daarna beledigende stellings gemaak oor Stander se kleredrag, gewig en velkleur ter toejuiging van die rekrute. Sy het onder meer haar eie vraag rakende wat fout was met die mense op die verhoog beantwoord deur te sê dat hulle te wit is. Stander het reeds in November 2016 ’n saakdossier oopgemaak. Merendeels as gevolg van die trauma en spanning wat hierdie insident veroorsaak het, is Stander intussen medies ongeskik verklaar en is sy nie meer in diens van die SAPD nie.

Nadat die vakbond Solidariteit druk op die SAPD uitgeoefen het, is ’n interne dissiplinêre verhoor in 2018 gehou oor die beskuldigde se optrede. Dit het bepaal dat die beskuldigde se kommentaar teenoor Stander en die ander beamptes rassisties, asook diskriminerend en neerhalend van aard was en sy is gevolglik in 2019 uit haar amp ontslaan. Die uitslag van die dissiplinêre verhoor het ook bepaal dat die beskuldigde ’n oneerlike en ongeloofwaardige getuie was. Dié bevinding en gepaardgaande sanksie is egter omgekeer tydens ’n arbitrasieproses en die generaal is weer in diens van die SAPD. Die SAPD het om onverklaarbare redes nie weer die dissiplinêre stappe ingestel nie.

Die NVG het egter steeds geweier om vervolging in te stel waarna die Privaatvervolgingseenheid in 2019 deur Solidariteit en Stander genader is om die beskuldigde privaat te vervolg. Die Direkteur van Openbare Vervolging in Kaapstad (DOV) het aanvanklik aangedui dat daar nie prima facie bewyse vir klagtes van crimen injuria teen die beskuldigde was nie, maar toe die Privaatvervolgingseenheid in Julie 2019 namens Stander ’n nolle prosequi-sertifikaat versoek om privaat te vervolg, het die NVG eenvoudig versuim om gehoor te gee aan wetgewing wat hulle verplig om só sertifikaat uit te reik as die Staat besluit om nie te vervolg nie.

Ná vele skrywes en druk op die NVG het die DOV uiteindelik vanjaar op 28 Maart 2022 halfhartig aangedui dat die Staat wel die beskuldigde gaan vervolg. In dieselfde skrywe skryf die DOV aan die Privaatvervolgingseenheid dat hulle die klaer (Stander) sal kontak “indien haar getuienis in die hof benodig sou word”.

Volgens adv. Phyllis Vorster, aanklaer by AfriForum se Privaatvervolgingseenheid, blyk dit dat beide die SAPD en die NVG alles in hulle vermoë gedoen het om die vervolging van die beskuldigde te vertraag met die doel om die saak uiteindelik te laat verdwyn. “Die SAPD het byvoorbeeld hul voete gesleep om die dossier aan die klaer te verskaf en die NVG se weiering om ’n nolle prosequi-sertifikaat uit te reik, spreek boekdele. Ons sal voortgaan om die saak te monitor om te verseker dat vervolging wel plaasvind sodat geregtigheid kan geskied.”

Volgens Stander is sy verheug dat die saak uiteindelik voor die hof gaan kom. “Ek is vol vertroue dat reg en geregtigheid nou onder die wakende oog van AfriForum se privaatvervolgingseenheid sal geskied.”

Die NVG het nog nie ’n datum van eerste verskyning verskaf nie.

Soortgelyke plasings