|

PRIVAATVERVOLGINGSEENHEID LÊ DIENSKLAGTES TEEN SAPD-LEDE WAT ONVERSKILLIGE GEDRAG VAN POLISIEMINISTER NABOOTS

AfriForum het vandag tydens ’n mediakonferensie aangekondig dat sy privaatvervolgingseenheid diensklagtes gelê het by lt.-gen. Khehla John Sitole, die nasionale polisiekommissaris, teen polisiebeamptes wat op onregmatige en irrasionele wyse beslag gelê het op duisende rande se alkohol by Hennie’s Restaurant in Moreletapark. Die beamptes het na bewering ook die restaurantbestuurder, Atrayo Nolte, onregmatig in hegtenis geneem. Die eenheid verteenwoordig tans vir Werner Pretorius, eienaar van dié restaurant.

Drie polisiebeamptes op 22 Januarie 2021 die restaurant binnegestorm en aangevoer het dat Nolte besig was om alkoholiese drankies aan restaurantgangers te bedien. Nolte het die beamptes telkens verseker dat hulle nie alkohol bedien nie. Hy het selfs aan hulle fakture getoon waarop daar aangedui word dat drankies wat bedien word geen alkohol bevat nie. Die beamptes het egter geweier om dié dokumente te aanvaar en by die dossier in te sluit. Hulle het ook beslag gelê op drank in die stoorkamer ter waarde van R112 000, waarvan die meerderheid nog geseël was. Geen inhegtenisnames is op die perseel uitgevoer nie. Nolte het die beamptes egter na die Garsfontein-polisiestasie vergesel, waar hy in hegtenis geneem is weens die oortreding van die Rampbestuurwet 57 van 2002.

Nolte moes agt ure in die aanhoudingselle deurbring saam met ander gevangenes, waarvan die meeste nie maskers gedra het nie. Die polisie het verder daarop aangedring dat sy swanger vrou na die polisiestasie moes gaan om sy woonadres te bevestig voordat hy op borgtog vrygelaat is.

Die Nasionale Vervolgingsgesag het reeds vroeër vandeesweek besluit om alle klagtes teen Nolte te laat vaar. Ten spyte hiervan het die polisie aanvanklik geweier om die alkohol aan die restaurant terug te besorg. Die voorraad is egter sonder enige verduideliking teruggegee ná afloop van Pretorius se konsultasie met AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

Volgens adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, is dit duidelik dat sekere polisiebeamptes die voorbeeld van hul politieke leier blindelings navolg. Dié optrede behoort skerp kritiek uit te lok. “Dit blyk dat polisieminister Bheki Cele wil hê dat sy onverskillige optrede nagevolg moet word, soos om ’n enkele branderplankryer ten aanskoue van die media te arresteer en ’n toelaatbare filmopname op die strand te stop. Ons bly egter hoopvol dat die polisiebestuur sal toesien dat polisiebeamptes ingevolge die wet optree en enige magsmisbruik of irrasionele gedrag vermy. Hoewel die meerderheid mense begrip het vir die maatreëls wat die regering ingestel het om die verspreiding van die COVID-19-virus te bestuur en te beperk, blyk die wydverspreide kritiek teen sekere wetstoepassers oor die hantering en toepassing van hierdie regulasies geregverdig te wees.”

Nel het ook terugvoer verskaf oor die formulemelkvoorval waarby Naas en Natasha le Roux verlede maand betrokke was. Die eenheid het ook klagtes teen dié betrokke polisiebeamptes ingedien in samewerking met die Le Rouxs se prokureur, Lily Rautenbach.

Soortgelyke plasings