|

Privaatvervolgingseenheid ondersteun mishandelde vrou met indien van klag ná regstelsel haar versaak

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het op 5 Augustus vir Leonie Kambouris ondersteun om strafregtelike klagtes van aanranding by die Benoni-polisiekantoor aanhangig te maak. Dit volg nadat sy in Junie 2020 reeds ’n beskermingsbevel teen haar man gekry het, maar die polisie geweier het om haar te help toe sy in Julie vanjaar ’n klag wou lê.

Die privaatvervolgingseenheid se ondersoekspan het Kambouris gehelp om ’n volledige beëdigde verklaring af te lê. Ondanks hiervan het ongeskikte polisiebeamptes weer eens geweier om die verklaring te neem en haar in die openbaar daarvan beskuldig dat sy 50% aandadig was in die aanranding. Daarna is die kwessie oor jurisdiksie geopper en was die offisier aan diens meer bekommerd oor waar die aanranding plaasgevind het as die welstand van die slagoffer. Die offisier aan diens het ook geweier om die reeds beëdigde verklarings te gebruik en die slagoffer moes noodgedwonge haar eie verklaring woord vir woord lees sodat die beampte dit kon neerskryf. Dit was die enigste wyse om te verseker dat haar klagte wel geregistreer word. Haar reeds beëdigde verklaring is as ’n “privaat verklaring” bestempel.

“Dit is kommerwekkend dat AfriForum by al hoe meer sake soos hierdie betrokke moet raak om die owerhede te dwing om hul werk te doen. Die regstelsel versaak die weerloses in ons gemeenskap toenemend – boonop terwyl politici beloftes maak van streng optrede teen diegene wat misdade teen vroue en kinders pleeg. Dié geval is weer eens bewys daarvan dat daar in baie gevalle ’n onvermoë of onwilligheid by owerhede is om hul pligte uit te voer,” sê Phyllis Vorster, ’n aanklaer by AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

Mev. Kambouris getuig in haar beëdigde verklaring dat sy sedert 2014 in ’n verhouding betrokke is waarin sy mishandel word. In dié tydperk het sy verskeie ernstige beserings opgedoen, insluitend ’n miskraam. Daar was ook vroeër vanjaar ’n lasbrief vir die inhegtenisname van die beskuldigde in die saak uitgereik, maar dit het verval sonder dat hy ooit in hegtenis geneem is.

Op 25 Julie 2020 wou Kambouris ’n klag by die polisiestasie indien nadat sy ernstige beserings opgedoen het, onder meer kneuswonde aan haar gesig en skade aan haar oogsenuwees. Die SAPD het egter geweier om ’n klag te open en na die insident verwys as bloot ’n voorval van huishoudelike geweld.

Die eenheid het ook vir Erika Brown, ’n getuie van voorvalle van die mishandeling wat teen Kambouris gepleeg is, ondersteun. Brown het ’n klag van saakbeskadiging gelê het nadat Kambouris se man Brown se kar en ander eiendom beskadig het.

Soortgelyke plasings