|

Privaatvervolgingseenheid sluit saak ná getuienis in Celeste Gouws-saak

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het hul saak in die verhoor van Celeste Gouws, verkragtingslagoffer van Somerset-Oos, verlede week afgesluit nadat verskeie getuies aangehoor is.

Dafré Troskie, jarelange vriendin van Gouws, het in die streekhof in Somerset-Oos getuig oor die trauma wat haar vriendin beleef het asook hoe die beskuldigde in die saak, Andile Memese, die dag ná die voorval vir Gouws in haar teenwoordigheid gebel en haar gevra het om nie ’n saak teen hom te maak nie.

Gouws het egter wel in September 2017 klagtes teen Memese ingedien.

Troskie, ’n apteker van beroep, was die privaatvervolgingseenheid se laaste getuie in die saak waar Memese op aanklagte van verkragting en huisbraak met die doel om te verkrag teregstaan.

In ’n dramatiese oomblik het Troskie haar eie trauma gedeel en aangedui dat baie min mense die werklike trauma van verkragting kan begryp. Sy het aangevoer dat ’n vrou nie verkwalik kan word oor haar optrede ná ’n verkragtingsvoorval nie – dit het haar vyf maande geneem om haar trauma te erken.

Die privaatvervolgingseenheid het in Junie 2020 by die saak betrokke geraak ná die Direkteur van Openbare Vervolging (DOV) in die Oos-Kaap geweier het om te vervolg. Memese se eerste verskyning was op 23 Februarie 2021. Die verhoordatum is toe vir 23 tot 26 Maart vasgestel. Op 23 Maart is die saak dadelik uitgestel toe die beskuldigde sy regspan in die pad gesteek het. Hy het aangevoer dat hy adv. Dali Mpofu se dienste wil bekom.

Op 14 Julie het die eerste getuies, insluitend Gouws en haar buurvrou, getuig. Gouws het getuig dat Memese, wie nuwe regsverteenwoordiging bekom het, maar nie Mpofu nie, herhaaldelik aangedring het dat sy saam met hom moet gaan bad.

Gavin Donnolly, ’n vriend van Gouws, het getuig dat Gouws hom op die aand van die beweerde voorval per WhatsApp gekontak het omdat sy ongemaklik was met Memese in haar huis. (Memese het versoek om in haar huis te bad, omdat die woonstel op die erf waarin hy en sy vriendin gebly het, geen bad gehad het nie.)

Volgens Donnolly, asook die beeldmateriaal, het Memese slegs in sy handdoek in die huis rondgeloop toe hy by Celeste se huis aangekom het.

Donnolly het getuig dat Memese oomblikke ná sy aankoms by Gouws se huis by hom en Gouws in die kombuis aangesluit het en dat hulle drie wyn gedrink het. Uit beeldmateriaal wat in die hof gewys is, blyk dit dat Memese in ’n stadium glase met Gouws s’n omgeruil het. Die beeldmateriaal wys hoe Gouws binne minute daarna lomerig geraak en selfs soms aan die slaap geraak het terwyl sy by die tafel sit. Sy het geslinger as sy loop en Donnolly se getuienis het dit ook bevestig. Hierna het Gouws geval en die beskuldigde en Donnolly het haar in die bed gesit.

Donnolly en Memese is toe weg en Gouws se huis is gesluit. Memese het egter ’n rukkie later weer toegang tot die huis gekry en Gouws na die slaapkamer gedwing waar die beweerde misdaad plaasgevind het.

Roy Schuin, wat destyds die kringtelevisie in Gouws se huis geïnstalleer het, het ook getuig. Troskie het hom versoek om die beeldmateriaal van die voorval af te laai waarop hy getuig het dat die kragprop van die stelsel uitgeprop was. Die prop is in Gouws se slaapkamer.

In ’n dramatiese oomblik het Gouws haar eie trauma gedeel en aangedui dat baie min mense die werklike trauma van verkragting kan begryp.

Volgens Andrew Leask, hoofondersoeker by die privaatvervolgingseenheid, kan die afleiding gemaak word dat iemand die CCTV-kameras wou uitprop omdat hierdie persoon nie wou hê dat die daaropvolgende gebeure opgeneem word nie.

“Ons is vol vertroue dat ons ’n sterk saak het.”

Memese se regsverteenwoordiger het aangedui dat hy kragtens artikel 174 van die Strafproseswet ’n aansoek om ontslag sal indien. Dié aansoek sal van 26 tot 28 Julie geargumenteer word. “Ons glo dat die aansoek nie sukesvol sal wees nie. Ons sal nie deur die klaarblyklike vertragingstaktiek ontmoedig word nie. Ons sal nie moeg word in ons strewe na geregtigheid vir die slagoffers van geslagsgebaseerde geweld nie,” sê Leask.

Soortgelyke plasings