|

Privaatvervolgingseenheid staan lid van Johannesburgse Balie by met seksuele-aanrandingsklagtes teen waarnemende regter

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het gister in ’n skrywe aan adv. Andrew Chauke, die Direkteur van Openbare Vervolgings in Gauteng, versoek dat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) hul besluit heroorweeg om nié ’n waarnemende regter vir seksuele aanranding te vervolg nie. Die eenheid verteenwoordig ’n vroulike advokaat wat na bewering seksueel deur die man aangerand is. Die eenheid het ook in die skrywe aangedui dat hulle bereid is om die waarnemende regter privaat te vervolg sou die NVG nié hul besluit heroorweeg nie.

Volgens adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid is dit weersinwekkend dat die persoon wat van hierdie misdaad beskuldig word ’n waarnemende regter is en dit blyk dat sy rol in die gemeenskap en sy loopbaan as regsgeleerde (insluitend die feit dat hy genomineer is om voor die regterlike dienskommissie (RDK) te verskyn om as regter oorweeg te word) ’n invloed gehad het op die NVG se besluit om nie te vervolg nie. Die slagoffer het ook die Balieraad, die Johannesburgse Vereniging van Advokate en die Raad vir die Regspraktyk (LPC) genader, maar min tot geen ondersteuning vanaf hierdie professionele liggame ontvang nie.

“Die privaatvervolgingseenheid het wel die dossier bestudeer en volgens ons is daar genoegsame bewyse om te vervolg. Die NVG laat nóg ’n slagoffer van geweld teen vrouens en kinders in die steek deur te weier om vervolging in te stel. Verder het hulle nie eers die moeite gedoen om met die klaer te konsulteer nie. Ons moet daarom met hierdie skrywe weereens die NVG uitdaag om die regering se beloftes na te kom dat sake van geslagsgebaseerde geweld geprioritiseer sal word en te bewys dat dit nie bloot lippediens is nie,” sê adv. Nel.

Volgens adv. Nel is die klaer in die saak baie dapper en het sy besluit om vas te staan om hierdie tipe misdadige gedrag teen vrouens te beveg. “Die advokaat het tydens konsultasie aan ons gesê dat vrouwees in Suid-Afrika ’n gevaarlike beroep geword het. Dit is waarom sy wil standpunt inneem en sodoende verseker dat ’n omgewing geskep word waar haar dogter, asook ander vrouens gemaklik sal voel om ’n loopbaan na te jaag sonder om die slagoffers te word van ‘magtige’ en klaarblyklik onaantasbare mans, veral in die werkplek.”

“Die aantal gevalle van geslagsgebaseerde geweld wat die privaatvervolgingseenheid mee te doen kry is onrusbarend en ’n aanklag op die toewyding en vaardigheid van wetstoepassers om die kwesbares in ons samelewing te beskerm. Erkentlik kan sake soos hierdie ingewikkeld wees en ons het ’n groeiende neiging by die NVG geïdentifiseer om eerder te weier om diesulke sake te vervolg met die hoop dat die klagtes sal weggaan. Die privaatvervolgingseenheid het die vaardighede en ervaring in ons kantoor om te verseker dat geregtigheid vir almal sal seëvier,” sê Natasha Venter, adviseur by die privaatvervolgingseenheid.

Soortgelyke plasings