|

Privaatvervolgingseenheid verkla ondersoekbeamptes wat sloer met perdemishandelingsaak

AfriForum se Privaatvervolgingseenheid het ’n klagte ingedien by Lt Gen SJ Kwena, die provinsiale polisiekommissaris van Noordwes, teen twee senior speurders van die Potchefstroomse SAPD weens die beweerde gebrek aan vordering met ’n ondersoek. Dié senior polisiebeamptes is aangestel om toesig te hou oor die saak van perdemishandeling en -verwaarlosing teen die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) en die ondersoek af te handel. Die Privaatvervolgingseenheid tree namens die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) op in hierdie saak.

Die NDBV het reeds in Mei 2018 klagtes van dieremishandeling teen die weermag se spesiale vaardigheidseenheid vir die infanterie ingedien omdat perde by die weermagterrein buite Potchefstroom na bewering verwaarloos en uitgehonger is.

Volgens die NDBV was die verwaarlosing van só erge graad dat van die perde hul eie ontlasting en grond moes eet. 25 perde moes ook uitgesit word as gevolg van die uiterste swak toestand waarin hulle was.

Volgens Andrew Leask, hoofondersoeker by AfriForum se Privaatvervolgingseenheid, deel AfriForum die NDBV se frustrasie met die powere hantering van die ondersoek. “Dit blyk dat die ondersoekbeamptes om onverklaarbare redes besig is om hulle voete te sleep met hierdie ondersoek. Die enigste afleiding wat gemaak kan word, is dat die SAPD óf onbekwaam is om die ondersoek af te handel, óf beïnvloed word om die saak te laat vaar. Ons maak die onvermydelike gevolgtrekking dat die spreekwoordelike stert besig is om die hond te swaai en dat die SANW en die verdagtes (in plaas van die SAPD) besig is om die tempo van die ondersoek te bepaal.”

Ten spyte van die feit dat daar reeds vier jaar verloop het sedert die indiening van die dieremishandelingklagtes en die feit dat die NDBV selfs volledige saakdossiere opgestel en aan die SAPD verskaf het vir verdere ondersoek, blyk dit dat daar steeds geen vordering met die saak is nie. Verder weier die bestuur van die speurtak van die Potchefstroom SAPD ook om enige terugvoer oor die saak aan AfriForum of die NDBV te verskaf, ten spyte van verskeie versoeke om terugvoer.

Soortgelyke plasings