|

Privaatvervolgingseenheid verwelkom strawwe vonnis van dronkbestuurder ná dood van jong paartjie

Die streekhof in Pretoria het op 21 Julie 2022 vir Andrew Kagiso Malele tot agt jaar tronkstraf gevonnis vir strafbare manslag weens die dood van ‘n jong paartjie. Hy is ook drie jaar tronkstraf opgelê vir dronkbestuur. Die vonnisse sal gelyklopend uitgedien word. Die hof het verder Malele se rybewys gekanselleer. AfriForum se privaatvervolgingseenheid verwelkom die vonnis omdat dit ’n sterk boodskap aan voornemende dronkbestuurders stuur, en dat growwe nalatigheid op die land se paaie nie geduld sal word nie.

Malele het in Mei skuldig gepleit op strafbare manslag – ’n verwikkeling wat moontlik gemaak is ná die privaatvervolgingseenheid se betrokkenheid, omdat die dossier volgens die staat vermis geraak het.

Op 23 Desember 2017 het Malele met sy motor in ‘n ander voertuig vasgery, wat gelei het tot die dood van Ruan Coen (26) en Jessika Kennedy (25). Die paartjie het net drie weke tevore verloof geraak. Hulle het met die N4 vanaf Witrivier na Pretoria gery. Malele het in die teenoorgestelde rigting gery, beheer oor sy voertuig verloor en in hul motor vasgery. Albei jongmense is op slag dood. Malele het slegs geringe beserings opgedoen en volgens ooggetuies het hy met polisielede op die toneel geskerts.

Ursula Kors, Ruan se ma, het AfriForum genader nadat die dossier na bewering by die Silverton-polisiekantoor vermis geraak het. AfriForum se privaatvervolgingseenheid het baie nou met kol. Werner Everson van die Silverton-speurtak en sers. Piet Ferreira van die Sinoville-speurtak saamgewerk om die dossier weer saam te stel, sodat die beskuldigde vervolg kon word.

Toe die saak uiteindelik aan ’n aanklaer toegewys is, het adv. Hilke Meyer verseker die saak kry die aandag wat dit verdien. Die kommunikasie tussen die aanklaer, AfriForum se privaatvervolgingseenheid en die slagoffers is opgeskerp, en behoort eintlik die norm te wees.

Malele se regspan het die hof gevra om ’n vonnis van korrektiewe toesig op te lê, terwyl die staat tronkstraf van vyf jaar voorgestel het. Landdros Kallie Bosch het in die uitspraak gesê beide voorstelle is onvanpas en het dit verwerp. “(Hierdie hof) moet verstaan dat die vonnis wat hierdie hof oplê nie die lewe van die twee oorledenes sal terugbring nie. Dit is iets waarmee jy sal moet saamleef. Jy is alleen verantwoordelik vir die dood van daardie twee jongmense. Jy staan voor hierdie hof met bloed op jou hande.”

“Die hof het na die slagofferimpakverslae gekyk. Dis duidelik dit was baie traumaties vir die oorledenes se familie. Die hof het ’n plig om ’n boodskap uit te stuur dat persone wat sulke misdade pleeg, soos om onder die invloed van alkohol te bestuur, swaar gestraf moet word,” het Bosch gesê.

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, sê die eenheid is tevrede dat daar vyf jaar na die jong paartjie se dood, finaliteit is in hierdie saak. “Die saak sou nooit voor die hof verskyn het as dit nie vir die betrokkenheid van die privaatvervolgingseenheid was nie. Dit is nog ’n voorbeeld van die mislukking van die strafregstelsel. Die kommerwekkendste is dat die dossier weggeraak het. Dit is eenvoudig onaanvaarbaar, maar dit is iets wat die eenheid veels te dikwels sien in gevalle waar dit blyk dat die beskuldigde persoon van vervolging beskerm word. Die gesinne wat geraak word, het nou ’n gevoel van afsluiting en kan daarop fokus om vorentoe te beweeg.”

In die slagofferimpakverklaring wat by die hof ingedien is, sê Rynet Kennedy, Jessika se ma, sy en haar seun is diep geraak deur haar dood. “Deur alles wat ek doen, help niks. Ek slaap baie, en soms sukkel ek om te slaap.”

“Sy was ’n absolute versorger van mense en diere. Sy was lief vir skilder, en ons het baie saam tuingemaak en gekook. Sy was betrokke by aktiwiteite teen misdaad teen vroue en kinders,” het Kennedy oor haar dogter gesê.

“Ons het ’n sagter vonnis verwag, so ons is meer as dankbaar vir die vonnis wat uiteindelik opgelê is. Ons is dankbaar dat die regstelsel hierdie tipe sake ernstiger as voorheen opneem,” het Kors buite die hof gesê.


Met verwysing na die privaatvervolgingseenheid se betrokkenheid sê sy: “Toe mense gedink het ons het moed opgegee, was daar mense wat ons hoop gegee het. Mense wat uit hul pad gegaan het om seker te maak dat die dossier hersaamgestel word, onder moeilike omstandighede. Ons is regtig dankbaar vir elke betrokke persoon wat hierdie saak ná vyf jaar voor die hof gebring het.”

Soortgelyke plasings