|

PRIVAATVERVOLGINGSEENHEID: WETSTOEPASSERS LAAT KINDERSLAGOFFERS VAN GRUWELIKE SEKSUELE MISHANDELING IN DIE STEEK

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het vandag tydens ’n mediakonferensie die eenheid se betrokkenheid by vier sake van die ernstigste gevalle van die seksuele mishandeling van kinders wat die eenheid nóg teëgekom het, aangekondig. In drie van die gevalle het die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), ten spyte van oorweldigende bewyse, die klagtes teen die beskuldigdes in die Brits Landdroshof teruggetrek. In die vierde geval het die NVG wel vervolging teen sekere beskuldigdes ingestel, maar versuim om ander verdagtes te vervolg.

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, en sy span tree op namens Michelle de Beer, ’n versorger by Place of Safety, en adv. Sylna Neuland in hierdie sake. Die eenheid het in hierdie verband ’n skrywe aan adv. Sibongile Mzinyathi, die direkteur van openbare vervolging in Pretoria, gerig om te eis dat die NVG vervolging instel of herinstel teen alle partye teen wie daar prima facie-bewyse is.

“Hoewel ons versoek dat die direkteur ’n dringende ondersoek loods na die skynbare onbekwaamheid van wetstoepassers in die Brits-jurisdiksie met betrekking tot die hantering van hierdie sake, sal die privaatvervolgingseenheid self alles in ons vermoë doen om toe te sien dat geregtigheid geskied vir hierdie uiters kwesbare lede van ons samelewing. Dié vier gevalle bevat van die gruwelikste seksuele misdade teen kinders wat ek al in my loopbaan teëgekom het. Ten spyte van die erge graad van mishandeling, blyk dit egter dat wetstoepassers in Brits óf onbekwaam óf onwillig is om die kinders te beskerm. Hierdie kinders word nie net deur hul ouers en oppassers versaak nie, maar ook deur die strafregstelsel,” sê adv. Nel.

Hieronder volg ’n kort opsomming van elke saak:

Brits CAS 81/12/2018

Die NVG het (sonder om redes te verskaf) hierdie saak teruggetrek teen die beskuldigde wat sy vyfjarige stiefdogter na bewering verkrag en seksueel aangerand het. Die dogtertjie het aan die maatskaplike werker vertel hoe haar stiefpa saans haar kamer binnegekom en haar met sy vingers, tong en penis gepenetreer het. Sy het ook gesê dat dit seer was en dat daar baie bloed was. Haar stiefpa het die dogtertjie ook met ’n belt aangerand en haar mond tydens die aanvalle toegedruk as sy huil.  Die kind se ma was volgens bewyse bewus van die verkragting en het aand na aand gehoor hoe haar dogter huil. Die ma het egter in ’n brief aan hul pastoor se vrou geskryf dat die Here verhoed het dat sy haar dogter se kamer binnegaan ingeval die verdagte gewelddadig raak. Sy het ook in ’n e-pos erken dat sy van die verkragting bewus was.

Brits CAS 78/12/2020 en Brits CAS 253/12/2020

Dit kan afgelei word uit getuienis in hierdie saak dat die sesjarige dogtertjie se ouma en ma haar as ’n kommoditeit gebruik het deur toe te laat dat sy verkrag word teen betaling. Die dogtertjie het beskryf hoe oortreders ’n skottelgoedsponsie in haar mond gedruk het tydens die verkragtings en seksuele molestering om te keer dat sy enige geraas maak. Drie van hierdie oortreders is aangekla nadat die eenheid op 29 Junie 2021 by die saak betrokke geraak het, maar twee ander verdagtes wat deur die dogtertjie geïdentifiseer is is nog nie gearresteer nie. Die NVG het ook versuim om die ouma en ander oortreder aan te kla.

Brits CAS 250/10/2020

In hierdie geval het die biologiese ma van die slagoffer, wat op daardie stadium slegs sewe weke oud was, aan ’n kleuterskoolonderwyseres erken dat sy haar baba in ’n vrieskas gesit het as hy te veel gehuil het. Die baba het brandwonde opgedoen omdat hy vir sulke lang tye in die vrieskas gelos is. Die J88 van die baba bevat verder ’n lys van 12 beserings. Sowel die ma as die pa van die baba is in November 2020 aangekla, maar die aanklaer het intussen (weer eens sonder enige rede) die saak teruggetrek.

Brits CAS 03/05/2021

In hierdie saak is die twee en ’n half-jarige dogtertjie só erg seksueel gemolesteer dat haar ma haar met ’n doekie in haar onderklere skool toe gestuur het om die bloeding weg te steek. Uit die dogtertjie se verklaring is die enigste logiese afleiding dat die beserings deur haar pa toegedien is. Tog het die NVG ook versuim om vervolging in te stel.

“Hierdie is gruwelike gevalle van kindermishandeling. In gevalle waar ouers of oppassers nie kinders beskerm nie, vereis die samelewing dat wetstoepassers intree en die beste belange van die kind vooropstel. Die regering doen egter bloot lippediens aan die geveg teen geweld teen kinders. Ons sien geen verbetering op die vlak waar dit eintlik tel nie – ons howe. Verder is dit jammer dat ons nie hierdie verdagtes se name bekend kan maak nie. Hoewel ons  verstaan dat die Strafproseswet beoog om kinders te beskerm deur te verbied dat oortreders se identiteit bekend gemaak word, beskerm dit in gevalle soos hierdie eerder pedofiele. Die samelewing het ’n reg om te weet wie hierdie oortreders is,” sê adv. Nel.

Soortgelyke plasings