|

Propvol Forum Tydskrif op pad na AfriForum-lede

Die derde uitgawe van 2018 se Forum Tydskrif in is in die pos of sal eersdaags voor jou deur afgelewer word.

AfriForum se meer as 214 000 lede word in dié uitgawe moed ingepraat om ondanks moeilike omstandighede in die land nie hoop te verloor nie. Vandaar dan ook die tema van die uitgawe #SkepSaamHoop.

AfriForum is van mening dat ons lede hul lewensomstandighede en die bestaande werklikhede in die land kan verander deur op te staan, selfstandig te dink en selfdoenprojekte aan te pak.
In die woorde van Kallie Kriel is daar dus geen rede waarom ons geslag nie ook die uitdaging van ons tyd met sukses kan aanpak nie. Oorlewing, is soos vir ons voorouers, immers in ons bloed.

In hierdie uitgawe van Forum is hope interessante artikels oor ons volgehoue pogings en veldtogte teen plaasmoorde en onteiening sonder vergoeding. Ons verduidelik ook wat grondeienaars te doen staan wanneer hul grond onwettig beset of betree word. Ons het vanjaar 700 buurtwag- en takbestuurslede in Warmbad tydens ons nasionale kongres saamgetrek, waar die boodskap ook duidelik oorgedra is: Saam is ons sterker en beter.

Daar is ook tydens die kongres koppe bymekaar gesit vir ’n nuwe strategie oor ankerdorpe wat binnekort deur die groter Solidariteit Beweging uitgerol sal word. Uit die voorleggings van sprekers was dit duidelik dat groter samewerking nodig is om vir Afrikaners ’n blywende voortbestaan te verseker.

Ander hoogtepunte waaroor berig word, is die die groot vordering wat adv. Gerrie Nel en sy span met hofsake maak wat die privaat vervolgingseenheid aangepak het.

Ander nuus sluit in ’n vennootskap met Virseker wat miljoene rande vir Afrikaanse onderwys sal ontsluit, die stigting van Sakeliga, wat ’n meer gekoördineerde sakeomgewing tot gevolg sal hê en stappe en aksies teen die regering se nuwe nasionale gesondheidsversekering.

Die internasionaal bekende in bewaringskringe, Lente Roode, deel ook haar passie vir bewaring, luiperds, renosters en ander diere wat by haar Hoedspruit Sentrum vir Bedreigde Spesies in nuwe heenkome vind. AfriForum-lede sal die sentrum ook teen afslag in die toekoms kan besoek.

Laastens maar nie die minste nie, is daar ’n deeglik nagevorste artikel oor waarom Afrikaners as minderheid nie hoop moet verloor nie. Ons is as bevolkingsgroep nie aan die kwyn nie, hoewel ons yl verspreid is. Ons demografiese uitdagings vra dat ons indringend na demografiese oplossings moet kyk.

As jy graag lid van AfriForum wil word en kwartaalliks die tydskrif wil ontvang, SMS jou naam na 32077 (R1).

Soortgelyke plasings