|

R33-plaaswag trek wildstroper vas en fnuik grondgryp

AfriForum se R33-plaaswag in Groblersdal het weereens bewys dat goed georganiseerde veiligheidstrukture van onskatbare waarde is toe hulle twee suksesse behaal het.

Die R33-plaaswag het ’n voorval aangemeld van onwettige jag met honde op ’n wildsplaas, wat gelei het tot die stroping van ses blouwildebeeste. Die plaaswag kon egter daarin slaag om ’n suksesvolle arrestasie te maak. Volgens Hendrik Kotzé, AfriForum se distrikskoördineerder vir Limpopo, beklemtoon hierdie sukses die deurslaggewende rol wat AfriForum speel in die beskerming van gemeenskappe, veral in landelike gebiede.

Die plaaswag het ook ’n grondgryppoging gefnuik ná die plaaswag die leiding van AfriForum se regs-en-risiko-afdeling ingeroep het. Die nodige regsprosedures is gevolg en die onwettige betreder het daarna vrywillig sy struktuur afgebreek en die eiendom verlaat.

“Dit is prysenswaardig dat die plaaswag die ekstra myl stap om seker te maak hulle volg die regte prosesse. Hierdie proaktiewe benadering demonstreer hul toewyding om te verseker dat geregtigheid geskied en dat oortreders verantwoordelik gehou word vir hul dade,” sê Kotzé.

“Hierdie voorvalle dien as ’n herinnering aan die kritieke rol wat organisasies soos AfriForum speel om plaaslike gemeenskappe te ondersteun en te bemagtig. Deur regshulp, voorspraak en praktiese ondersteuning te verskaf, dien AfriForum as ’n deurslaggewende bondgenoot vir individue en groepe wat andersins kan sukkel om hul regte en belange te beskerm,” voeg Coenie Meyer, voorsitter van AfriForum se Groblersdal-tak, by.

Inwoners wat graag by AfriForum se Groblersdal-buurtwag wil betrokke raak, kan ’n WhatsApp-boodskap aan 072 289 59 70 stuur of ’n e-pos na  voorsitter.groblersdal@afriforumtak.co.za.

Soortgelyke plasings