| |

Ramaphosa en kie voor hof gedaag oor gebrek aan munisipale dienslewering

Die burgerregteorganisasie AfriForum en die Mafube Besigheidsforum het vandag tydens ’n mediakonferensie aangekondig dat hulle môre (27 Januarie 2022) vir pres. Cyril Ramaphosa en 16 ander respondente in die Vrystaatse Hooggeregshof in Bloemfontein gaan uitdaag ten einde dienslewering in die Mafube Plaaslike Munisipaliteit – spesifiek in Frankfort – te verseker. Frankfort, Tweeling, Villiers en Cornelia word deur die Mafube Plaaslike Munisipaliteit bestuur.

Ten spyte daarvan dat dit die tuisdorp is van Sisi Ntombela, premier van die Vrystaat, ontvang inwoners van Frankfort – wat eens ’n spogdorp was – geen munisipale dienste nie. Dié munisipaliteit is amptelik bankrot. Slaggate, gereelde watertekorte, ’n gebrek aan vullisverwydering en ’n wanfunksionerende rioolstelsel is maar enkele van die probleme wat inwoners van dié dorp ervaar. Die munisipaliteit het ook vir etlike jare geen munisipale rekeninge aan inwoners gestuur nie.

Die Mafube Besigheidsforum bring dié hofaansoek namens die inwoners van Frankfort. Die hofsaak beloof om belangrike regsbeginsels te vestig wat aan gemeenskappe die reg gee om munisipale dienste te bestuur in gevalle waar munisipale dienslewering in duie gestort het.

Volgens Jacques Jansen van Vuuren, skakelbeampte van die Mafube Besigheidsforum, word daar vir omvattende regshulp gevra. “Ons versoek onder meer ’n bevel wat ons die reg sal gee om vir ’n beperkte tydperk ’n verskeidenheid van munisipale dienste te bestuur totdat daar vanaf nasionale vlak ingegryp word om dienslewering reg te ruk. Hierdie bestuursdienste sal teen vergoeding vanuit die staatskas gelewer word. Ons hoop om ’n gunstige hofuitspraak te kry ná ’n jarelange stryd met die munisipaliteit om basiese dienste te lewer. Die gemeenskap is eenvoudig siek en sat vir leë beloftes en korrupsie,” sê Jansen van Vuuren.

“Hoewel plaaslike owerhede outonoom is, is daar steeds binne die Grondwet ’n oorsigbevoegdheid van die provinsiale regering om te verseker dat dienste gelewer word. In hierdie geval was die provinsiale regering bewus van die munisipale probleme, maar niks is egter daaromtrent gedoen nie. Dít is waarom hierdie verpligting om dienste te verseker op nasionale vlak berus. Die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake en uiteindelik die president moet tussenbeide tree indien die staat nie aan die grondwetlike maatstawwe voldoen nie,” sê Morné Mostert, bestuurder van Plaaslikeregeringsake by AfriForum.

Soortgelyke plasings