|

Ramaphosa se ekonomiese groeiplan is naïef en utopies

Die burgerregteorganisasie AfriForum het die ekonomiese groeiplan wat vandag deur pres. Cyril Ramaphosa aangekondig is, as ekonomies naïef en utopies bestempel.

Ernst Roets, hoof van beleid en aksie by AfriForum, sê dat die basiese boublokke wat in plek gesit moet word om ekonomiese groei te stimuleer, nie deur hierdie plan gedek word nie. “Dit sluit in dat sekerheid oor eiendomsreg geskep moet word en dat die sakesektor gedereguleer moet word ten einde dit vir entrepreneurs makliker te maak om sakeondernemings te begin en werk te skep.”

Roets sê verder dat dit duidelik is dat die regerende party se ideologiese vertrekpunte nie versoenbaar is met die praktiese stappe wat gedoen moet word om ekonomiese groei te stimuleer nie en dat hierdie groeiplan dit ook duidelik maak dat die ANC eerder wil vasklou aan sy vooropgestelde ideologiese idees.

“Om aan te voer dat die regering ernstig daaroor is om die ekonomie reg te ruk terwyl daar voortgegaan word met die proses om die grondwet te wysig om eiendomsreg in Suid-Afrika af te water deur vir die onteiening van privaat eiendom sonder vergoeding voorsiening te maak, is utopies.

“Die oplossing lê in die desentralisering van mag en om mense minder afhanklik van die staat te maak. Hierdie plan bevorder egter sentralisering en staatsafhanklikheid – presies die teenoorgestelde van wat nou gedoen moet word,” voeg Roets by.

“Dit was nie die koronavirus wat in die afgelope jaar soveel skade aangerig het nie, maar eerder die magsbeheptheid van die Suid-Afrikaanse regering. Dit maak nie sin om ekonomiese groei te probeer stimuleer terwyl die president en die regering vasklou aan dieselfde ideologiese beginsels wat juis soveel skade aan die ekonomie berokken het nie.”

Soortgelyke plasings